’n Graad beteken nie werk nie
Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste is nie in ’n posisie om werklose mediese beamptes, tandartse of enige ander gesondheidsverwante beroepslui outomaties met die voltooiing van hul internskappe of kontraktydperke aan te stel nie.
Die gesondheidsminister, dr. Esperance Luvindao, het in die Nasionale Vergadering gesê die tempo en vermoë om interns in die openbare gesondheidstelsel op te neem, afhang van die finansiële hulpbronne wat aan die ministerie beskikbaar gestel word.
Luvindao het egter daarop gewys dat sodanige opname op die lang termyn bepaal word deur die vraag na dienste in verhouding tot die bevolking.
Volgens haar koördineer die ministerie met instellings vir tersiêre onderwys om die vraag na mediese dienste te bestuur en sodoende ’n ooraanbod in die mark te voorkom.
Sy het die huidige uitdaging van ’n beperkte aantal gefinansierde vakante poste in die ministerie erken en gesê alle beskikbare poste is onderhewig aan goedgekeurde plasings en begrotingsbepalings.
Luvindao het gesê al die gefinansierde vakante poste word vir deursigtigheid in die openbare domein geadverteer, met gekwalifiseerde kandidate wat ’n mededingende keuringsproses ondergaan wat op meriete en die bedryfsbehoeftes van die ministerie gegrond is.
Die minister het beklemtoon haar ministerie is steeds daartoe verbind om voorspraak by relevante rolspelers te maak ten einde befondsing te verhoog om dienslewering in kritieke gesondheidsgebiede te verbeter.
Met verwysing na ’n vraag van die Independent Patriots for Change (IPC) se skaduminister vir gesondheid, Lilani Brinkman, oor die uitbetaling van oortyd aan tandheelkundige interns, het Luvindao gesê
“uitvoerbare en wetlik gegronde werkwyses” word vir ’n regverdige en gestandardiseerde raamwerk vir oortydbetaling ondersoek.
Volgens Luvindao is die doel van konsultasies met die kantoor van die eerste minister en prokureur-generaal om te verseker dat enige oortydbetaling in ooreenstemming met bestaande wette, regulasies vir die staatsdiens asook fiskale kapasiteit is.
’n Monitering- en verslagdoeningstelsel word ook oorweeg wat die bestuur van enige oortydeise betyds en akkuraat sal aanteken.
Sy het bevestig die kwessie van die interns se vergoeding – vir ure wat ver oor die standaard-werkweek van 40 uur strek – is in ’n gevorderde stadium. Die uitkoms van die gesamentlike poging met die ministerie van finansies sal aan die interns se aangewese verteenwoordigers bekend gemaak word.
Volgens Luvindao beoog dié benadering om die belange van beide die ministerie en die interne te beskerm en te verseker dat alle besluite wettig, inklusief en fiskaal volhoubaar is en in ooreenstemming met die gevestigde diensraamwerk wat op werknemers en interne in die staatsdiens van toepassing is.
Sy het ook gereageer op die laat betaling van beurse aan studente wat in gesondheidsverwante rigtings studeer. Die ministerie het beurse vir die 2025-akademiese jaar aan 53 studente in tandheelkundige terapie, optometrie, biomediese ingenieurswese, asook ortotika- en prostetikakunde toegeken. Tans studeer net 34 voltyds, met die res wat hul studies tot die volgende akademiese jaar laat oorstaan het.
Volgens Luvindao het al 34 aktiewe studente hul betalings vir verblyf en vervoer in Oktober verlede jaar ontvang. Die vertragings in die uitbetaling van die beurse kan, volgens die minister, toegeskryf word aan vertragings in die indiening van registrasiebewyse en vereiste dokumente waaronder bevestiging van bankbesonderhede.
Sy het ook verwys na die uitgerekte proses om ’n verskafferskode vir elke student op die geïntegreerde finansiële bestuurstelsel (IFMS) te skep.
Volgens Luvindao het die ministerie maatreëls ingestel om die voldoende en omvattende bestuur van beurse te verseker. Dit behels die tydige vrystelling van begrotingstoekennings en dat studente wat beurse ontvang, betyds ingelig word sodat hulle voldoende kan beplan.
Die aansoeke vir die tweede ronde beurstoekennings is tans aan die gang en sluit op 30 November. Die keuringsproses vir die suksesvolle kandidate vind middel Desember plaas. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie