'n Apteek vir Aranos
Inwoners van Aranos en omliggende gemeenskappe in die Hardapstreek hoef nie meer lang afstande na die naaste groot dorp soos Mariental af te lê om hul medikasie te kry nie. Die behoefte aan meer toeganklike aptekersdienste op dié dorp het daartoe gelei dat die Aranos-apteek gister amptelik sy deure in die Agrimark-gebou in Nossobstraat geopen het.
Volgens woordvoerder Hester Olivier moes sommige inwoners en lede van omliggende gemeenskappe noodgedwonge die 130 kilometer na Mariental vir gesondheidsorgdienste en medikasie aflê. Dikwels moes eie vervoer ook gereël word om die medikasie tot op Aranos te bring. Medisynetekorte word ook dikwels by die staat se gesondheidsentrum en kliniek op die dorp ervaar. Sy het gesê die projek was reeds ’n geruime tyd in die beplanningsfase en die bouwerk aan die apteekgebou het verlede jaar begin.
Eienaar Everencia von Schach het op haar beurt gesê die idee van ’n apteek op Aranos het lank by haar gebroei en “dit het uiteindelik verwesenlik”.
Von Schach sê ondersteuning van die gemeenskap het ’n beduidende rol gespeel om die projek te verwesenlik.
Volgens haar het inwoners tydens ’n opname groot entoesiasme vir ’n apteek in die dorp getoon.
Die apteek word gesamentlik deur Blandine Meesher besit, met Von Schach wat as die verantwoordelike apteker sal optree. Von Schach het tussen 2015 en 2018 aan die Universiteit van Wes-Kaapland in Suid-Afrika studeer.
Die apteek het sowat N$1,5 miljoen gekos, met finansiering wat deur die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) verskaf is. Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste en die Raad vir Gesondheidsberoepe in Namibië (HPCN) was nou by die nodige regulatoriese en lisensiëringsprosesse betrokke.
Buiten vir die verskaffing van aptekersdienste, hoop die apteek om werksgeleenthede vir inwoners te skep en tot die ontwikkeling van die gemeenskap by te dra.
Die eienaars se hoop vir die toekoms is om ook ’n algemene praktisyn te werf en ’n mobiele kliniek in te stel om nabygeleë dorpe en nedersettings te bedien.
Die doel is om sodoende gesondheidsorgdienste na gemeenskappe in die Hardapstreek uit te brei, wat onvoldoende of beperkte toegang tot dienste het. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie