Ministerie moet opdok ná kind se dood
Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste moet N$300 000 in ’n skadevergoedingseis opdok ná die dood van ’n minderjarige in die Onandjokwe Intermediêre Hospitaal in Augustus 2022.
Die eis hou verband met die beweerde nalatige toediening van kaliumchloried (KCI) tydens die kind se opname as pasiënt in die hospitaal.
Hofdokumente het getoon dat ’n verpleegstudent na bewering die middel sonder behoorlike toesig en strydig met die vereiste mediese prosedures direk in die kind se binneaarse pypie toegedien het. Sy het gevolglik ’n hartstilstand gehad en is in die hospitaal se intensiewesorgeenheid opgeneem en het op 17 September 2022 gesterf.
Die vergoedingseis fokus op die emosionele en sielkundige trauma van Silvia Shiyova ná die dood van haar dogter, asook die beweerde versuim deur hospitaalpersoneel en owerhede om behoorlik toesig te hou oor die toediening van medikasie in ooreenstemming met die vereiste standaard van sorg.
Shiyova wat deur Henry Shimutwikeni verteenwoordig is, het aanvanklik skadevergoeding van N$400 000 geëis, tesame met rente en regskoste.
Volgens ’n ooreenkoms wat tussen Shiyova en die ministerie bereik is, sal N$300 000 as ’n volle en finale skikking aan haar uitbetaal word.
Die skikkingsbedrag word verdeel in N$200 000 vir pyn en lyding en N$100 000 vir toekomstige mediese uitgawes vir sielkundige evaluering en berading.
Die skikkingsooreenkoms is op 17 April onderteken en op 20 April ’n bevel van die hoërhof gemaak. Die hof het verder gelas dat die saak gefinaliseer en van die rol geskrap word.
Ingevolge die ooreenkoms bly betaling onderhewig aan Artikel 21 van die Wet op Staatsfinansies No. 13 van 1991 en sal dit binne 90 kalenderdae na die verkryging van die nodige goedkeuring van die tesourie geskied.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie