Foto ter illustrasie/Unsplash
Foto ter illustrasie/Unsplash

Medisyne: Verkrygingstelsel ‘herstel’

Nuwe, meer betroubare verskaffing gebou
Die ministerie gaan voortaan maandeliks terugvoer aan die publiek gee oor die werklike stand van aflewerings van farmaseutiese en kliniese produkte.
Henriette Lamprecht

Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste is bewus van die frustrasie wat die publiek weens die ernstige tekorte aan, veral noodsaaklike medisyne, ervaar. 

“Ons verstaan talle is ontevrede met die huidige situasie,” sê die uitvoerende direkteur Penda Ithindi.

Volgens hom werk die ministerie onverpoosd om die verkrygingstelsel te herstel en ’n nuwe, meer betroubare verskaffingstelsel van die grond af op te bou.

“Dit is nie ’n aktiwiteit vir ’n dag nie, maar ons is daartoe verbind om dit reg te kry,” het Ithindi gesê.

Die ministerie gaan voortaan maandeliks terugvoer aan die publiek gee oor die werklike stand van aflewerings van farmaseutiese en kliniese produkte.

Terugvoering sal ook verskaf word oor maatreëls wat geïmplementeer word om die vlak van voorrade by openbare gesondheidsgeriewe oraloor die land tot ’n minimum van 80% te stabiliseer. Die geraamde diensvlak is tans 60%. Teen dié huidige diensvlak is daar óf tekorte óf geen noodsaaklike voorrade by staatsgeriewe landswyd nie.

Dit beteken die ministerie moet noodgedwonge nood- of direkte verkryging gebruik om in sy korttermynbehoeftes te voorsien. Grootmaataankope moet voorraad oor die lang termyn stabiliseer en handhaaf.

Die diensvlak word bepaal deur die totale hoeveelheid wat verskaf word as ’n persentasie van die hoeveelheid wat deur gesondheidsgeriewe landswyd bestel word.

Ithindi sê in ’n verklaring wat laat Sondag uitgereik is, verskeie medisyne en kliniese voorrade is tussen 27 April en 15 Mei by die Sentrale Mediese Store (CMS) ontvang.

Volgens hom weerspieël dit bykomende voorrade om die nasionale vlakke ’n hupstoot te gee en ook die huidige dringende behoeftes te takel.

Verskeie verskaffers het ook bevestig dat aflewerings stuksgewys en gebaseer op produksieskedules en beskikbaarheid in die komende weke voltooi sal word. 

Vir verskeie sleutelprodukte het die ministerie, volgens Ithindi, reeds voorraad gelykstaande aan nege maande ontvang. In ander gevalle is beperkte hoeveelhede gebaseer op beskikbaarheid by verskaffers dadelik aangekoop in ’n poging om dringende tekorte te takel.

Verskeie maatreëls is deur die gesondheidsministerie ingestel om die voortgesette dringende tekorte aan, veral nood- en chroniese medikasie, landswyd aan te pak. Dit sluit die onmiddellike verkryging van noodsaaklike voorrade van plaaslike, streek- en internasionale markte in om leë medisynekaste op die kort termyn aan te vul.

Terselfdertyd word nood- en geteikende direkte verkryging van grootmaatvoorrade vir die langtermyn-stabilisering van alle noodsaaklike medisyne en kliniese voorrade gereël. 

Ithindi sê gesamentlike verkrygingsmeganismes sal gebruik word om skaalvoordele en verbeterde kostedoeltreffendheid te benut.

Volgens hom sal ’n kombinasie van direkte verkryging van vervaardigers en strategiese tussengangervennootskappe gebruik word om groot volumes, geredelik beskikbare voorraad te verseker.

Ithindi verwys na ’n vinnige oplossing wat ook gesoek word vir die registrasie en klaring van kritieke, hoëgehalte-medikasie wat dringend in Namibië toegelaat moet word.

Netwerke van verskaffers en vervaardigers asook die diversifisering van verkrygingskanale gaan, volgens hom, uitgebrei word. Die doel is om die mininisterie se afhanklikheid van ’n beperkte aantal verskaffers te verminder en ontwrigtings aan die voorsieningskant te beperk.

Grootmaatverkryging, gevorderde voorspellingstelsels en intydse voorraadmonitering verbeter voorraadbeplanning en handhaaf voldoende voorraadreserwevlakke.

Ithindi sê grootmaataankope, ’n stelsel vir vooruitskatting en die monitor van voorraad in reële tyd moet help om die beplanning en handhawing van voldoende voorraadreserwes te verbeter.

Hy verwys ook na ingrypings wat betyds moet plaasvind waar tekorte danksy die monitering van voorraadkettings geïdentifiseer is.

“Die bestuur van voorrade en herverspreidingstelsels word versterk om te verseker dat medisyne vinnig na geriewe versprei word wat tekorte ervaar,” het Ithindi gesê.

Die nasionale kapasiteit vir buffervoorrade van noodsaaklike medisyne word ook verhoog om die risiko van toekomstige ontwrigtings te verminder.

Met verwysing na die werksaamhede van die CMS, het hy gesê menslike kapasiteit, risikobestuur en logistieke stelsels word voortgeset versterk om doeltreffendheid in die ontvangs, berging en verspreiding van medisyne landswyd te verbeter.

Volgens hom sal die kapasiteit en institutionele hervormings van die Namibië Medisynebeheerraad (NMRC) ook versterk word om veral vinniger omkeertye in die evaluering van aansoeke en registrasie van produkte te verseker. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer