Medisyne eerste, sê pasiënte
Hooggeplaastes moet alle staatshospitale besoek en nie net dele wat opgeknap is nie, sê pasiënte oor ’n regeringsbesoek aan die Windhoek Sentrale en Katutura-hospitaal in Windhoek.
Eerste minister Elijah Ngurare het gister ’n welwillendheidsbesoek onder leiding van die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Esperance Luvindao, aan dié twee hospitale in die hoofstad gebring. Die afvaardiging het glo net uitgesoekte sale besoek, wat die isolasie- en dialise-eenhede insluit waar opknappings in dele van dié geriewe uitgevoer word.
Volgens sommige pasiënte by die twee hospitale weerspieël die besoeke nie die volle werklikheid op grondvlak nie. Terwyl een pasiënt ’n beroep op regeringslui gedoen het om volledige inspeksies van geriewe te doen eerder as om net op opgeknapte areas te fokus, het ’n ander verwys na toestande by hospitale soos dié op Engela.
Hier strek uitdagings verder as net infrastruktuur en basiese dienslewering, het ’n pasiënt gesê.
’n Groot bekommernis wat voortgeset deur pasiënte geopper word, is die gebrek aan noodsaaklike medikasie.
“Dit help nie jy knap ’n hospitaal op wat nie eens ’n Panado kan gee nie. ’n Skoon omgewing gaan nie ’n sterwende pasiënt help as daar nie medikasie beskikbaar is nie,” het ’n familielid van ’n pasiënt gesê.
Volgens pasiënte blyk dit die regering se pogings fokus eerder op sigbare opgraderings, terwyl minder sigbare maar kritieke behoeftes, soos die voortgesette beskikbaarheid van medisynevoorrade en funksionele toerusting, agterweë bly.
Sommige bevraagteken ook die impak van hoëprofielbesoeke en digitale stelsels en sê dit doen weinig om sorg op grondvlak te verbeter.
“Hoëprofielbesoeke waarborg nie dat stelsels sal werk nie,” het een pasiënt by die Katutura-hospitaal gesê. “Behoorlike verkryging en instandhouding van kritieke mediese toerusting en medisyne moet voorkeur geniet.”
Luvindao het vroeër medisynetekorte aan onvoldoende bergingskapasiteit toegeskryf.
Volgens die minister het Namibië voldoende voorrade sentraal, maar het nie die ruimte om dit doeltreffend na die res van die land te versprei nie. Sy het gesê die regering beplan om bergingsgeriewe uit te brei en logistieke stelsels te verbeter om voortdurende uitdagings in voorsiening te takel.
Terwyl die regering volhou dat die ontwikkeling van infrastruktuur deel is van 'n breër langtermynstrategie, dring pasiënte daarop aan dat onmiddellike ingrypings nodig is om tekorte te takel en vertroue in openbare gesondheidsorg te herstel.
Ngurare se besoek is in aanloop tot Visie April 2026 wat ’n ambisieuse plan het om openbare gesondheidsgeriewe tot die standaarde van privaat geriewe te verhef. Deel van die plan is om openbare gesondheidsorg te moderniseer deur die opgradering van infrastruktuur, verbeterde tegnologie en verhoogde toegang tot spesialiste.
“Die moeilikste stap is die eerste stap en dit word geneem,” het Ngurare tydens die besoek gesê.
“Oor vyf jaar sal diegene wat ná ons kom, die treë onthou wat ons voorgangers gegee het. Dit vereis dat ons almal ons agter daardie visie skaar, want dit is in nasionale belang,” het hy beklemtoon.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie