Mediese voorrade agter slot en grendel

Gesondheidsdirekteur glo nie bewus van situasie
Beamptes by die stoor beweer die direkteur is voortdurend afwesig en ongelig oor water en krag wat by landelike gesondheidsgeriewe onder haar bestuur afgesny is.
Phillipus Josef
Mediese voorraad bestem vir pasiënte in die Ncamagoro-kiesafdeling in Kavango-Wes is deur die verhuurder toegesluit aangesien die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste agterstallig is met die geriewe se huur.

Die geriewe word deur die ministerie se personeel vir primêre gesondheidsorg (PHC-personeel) as ’n stoor gebruik vir medikasie en voorrade wat vir die afgeleë Bora-kliniek, sowat 82 km suidwes van Rundu, bestem is. Volgens ’n PHC-beamptes wat anoniem wou bly, is dit weer eens ’n geval van wanbestuur en verwaarlosing.

In ’n onderhoud met Network Media Hub (NMH) het een van dié beampte gesê die eienaar van die gebou het ’n week gelede gewaarsku dat dit ontruim moet word of die deure word gesluit.

“Ons is moeg daarvoor as daar gesê word mense in hoër posisies is nie bewus daarvan nie,” het die beampte gesê.

Dit nadat die gesondheidsdirekteur in Kavango-Wes, Fransiska Hamutenya, by navraag ontken het dat sy enige kennis van die beplande uitsetting dra.

“Ek is nie daarvan bewus nie. Wat ek weet is dat ons huur en dat ons gewoonlik betaal. Ons huur dit sedert 2022 en dit het nog nooit gebeur nie,” het sy gesê.

Beamptes by die stoor het haar egter daarvan beskuldig dat sy glo herhaaldelik afwesig en “oningelig” oor voortgesette probleme is. Dit sluit in agterstallige huur, asook die water en krag wat by landelike gesondheidsgeriewe afgesny word wat onder haar bestuur val.

“Sy sê altyd sy is nie bewus daarvan nie. Maar die eienaar van die gebou was self verlede Donderdag en Vrydag hier. Hy het self aan die toesighouer gesê hulle moet uittrek of hy sluit hulle uit.

“Hoekom het die toesighouer nie vir die direkteur gesê nie? Of het sy dit weer geïgnoreer,” het ’n beampte gevra.

Die bestuurder van die gebou, Piet Uys, het by navraag bevestig dat die ministerie van gesondheid die afgelope drie maande nie die huurgeld betaal het nie.

“Hulle is uitgesluit en gevra om hul persoonlike eiendom te verwyder en die gebou te ontruim,” het Uys bevestig.

Die Mpora-kliniek, ’n tydelike struktuur wat gebruik word om inwoners van Ncamagoro te bedien, was in ’n stadium vir byna ’n jaar gesluit. Die gemeenskap het op regeringshulp aangedring om vir petrol te betaal om water met die hulp van 'n kragopwekker te pomp.

“Ons moes drie keer per week water met voertuie van die ministerie vanaf Rundu aanry, maar dit het nooddienste ontwrig. Wanneer ons ’n oproep ontvang het, moes die bestuurders eers ophou om die water af te lewer en ambulanse gaan haal,” het ’n beampte gesê.

PHC-personeel is ook gefrustreerd oor volgehoue vertragings in die verwerking van oortydbetalings.

“Dit is nou drie maande sonder enige oortydbetalings omdat die finanskantoor sê die voorleggingsbriewe is nie ingedien nie. Maar dit is nie ons skuld nie, administrasie vertraag alles.”

Hulle bevraagteken ook waarom die gesondheidsdirektoraat voortgaan om sommige van sy PHC-bedrywighede in Rundu in plaas van in Kavango-Wes te baseer.

“Ons is veronderstel om Ncamagoro te bedien, maar is in die dorp gebaseer. Beamptes van hoofkantoor was verlede jaar hier en was geskok dat ons steeds uit Rundu werk.”

Pogings om Hamutenya weer vir opvolgkommentaar te bereik, was onsuksesvol. Die PHC-toesighouer, Johannes Kavau, kon ook nie bereik word nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer