Mediese afval, vuil wasgoed hoop op by hospitaal
Die Eenhana-distrikshospitaal in die Ohangwenastreek wag tans op magtiging om sy mediese afval te verwyder, aangesien Namibië net twee gelisensieerde mediese afvalterreine in Windhoek en Walvisbaai het.
Hierdie kwessie is deur ’n senior praktisyn in omgewingsgesondheid, Petrus Amuthenu, tydens ’n besoek van die streek se goewerneur, Kadiva Hamutumwa, gerapporteer.
Die doel van die besoek was om uitdagings waarmee die hospitaal te kampe het, te identifiseer en moontlike oplossings te bespreek.
In reaksie op ’n vraag van Hamutumwa oor die gebrek aan bykomende mediese afvalterreine in die noordelike streke, het Amuthenu verduidelik dat die kwessie hoofsaaklik munisipaal is. Hy het die noodsaaklikheid beklemtoon dat grond vir ’n mediese afvalterrein in die Noorde toegeken moet word, eerder as om uitsluitlik op magtigings uit Windhoek of Walvisbaai staat te maak.
Hamutumwa het aangedui dat die bespreking oor grondbeskikbaarheid en die afwesigheid van ’n noordelike mediese afvalerrein waarskynlik een is waarvan baie leiers nie bewus is nie. Sy het genoem dat dit die eerste keer is dat sy daarvan hoor.
“Dit is ’n saak wat ons saam met die munisipaliteit sal prioritiseer om te verseker dat die noordelike streek sy eie terrein vir die wegdoen van mediese afval het,” het sy gesê.
RONDLOPERKATTE
Benewens die kommer oor mediese afval, het Hamutumwa ook navraag gedoen oor die teenwoordigheid van rondloperkatte rondom die hospitaal en spesifiek gevra of pasiënte die risiko kan loop om siektes van katte op te doen.
Amuthenu het geantwoord dat hulle wel probeer om die situasie te bestuur deur die rondloperkatte te vang, maar dat dit moeilik is om hulle heeltemal uit te skakel weens ’n aanhoudende instroming uit naburige gebiede.
Verder het die hospitaal se bestuurspan verskeie ander dringende uitdagings gerapporteer, insluitend ’n tekort aan noodsaaklike mediese toerusting soos ventilators, broeikaste, ultraklankmasjiene, monitors, asook glukose-monitortoestelle.
Hulle het ook op tekorte aan infrastruktuur gefokus, soos die behoefte om die ongevalle- en kraamsale asook die operasieteater uit te brei. Ander uitdagings het ’n gebrek aan voertuie en pasiëntskuilings ingesluit, asook onvoldoende chirurgiese en bevallingstoerusting, wat die lewering van gehalte- en tydige gesondheidsorgdienste kniehalter.
Tans het die hospitaal net een werkende wasmasjien en tuimeldroër, ’n kwessie wat tot ’n agterstand van vuil wasgoed gelei het wat vir lang tydperke op die vloer bly lê.
Daarbenewens staar die hospitaal soortgelyke uitdagings as Engela-hospitaal in die gesig, en sukkel met tekorte aan noodsaaklike medikasie, insluitend dié vir oogsorg, tandheelkundige behandeling, anti-psigotiese middels en antibiotika vir babas.
In die lig hiervan het Hamutumwa gevra hoe die hospitaal medikasietekorte hanteer. Jeremiah Shikongo, die apteker by Eenhana-hospitaal, het aangedui dat hulle dikwels alternatiewe voorsien, pasiënte beveel om hul medikasie by privaat apteke te koop, of hulle na Oshakati Intermediêre Hospitaal oorplaas indien hul toestand nie verbeter nie.
“Dit is ons grootste uitdaging en ons het ’n bestendige voorsiening van noodsaaklike medikasie nodig sodat ons gepas vir ons pasiënte kan voorskryf,” het hy gesê.
Hamutumwa het die bestuurspan verseker dat sy kennis geneem het van al die uitdagings wat bespreek is en dat sy sal voortgaan om met die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste in gesprek te bly om die uitbreiding van die ongevalle- en kraamsale asook die operasieteater te verseker.
Sy het die bestuurspan ook aangeraai om die begroting wat aan die hospitaal toegeken is, te benut om die nodige voorrade aan te skaf.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie