‘Luister meer, oordeel minder’
Tuyeimo Haidula en Desmarius Hansen
Mense wat ander se geestesgesondheidsprobleme in skinderstories, spottery en TikTok-inhoud omskep, kan verdere skade aanrig aan diegene wat reeds sukkel.
Só het Beata Siteketa, hoofmediesebeampte van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, gewaarsku. Sy het die publiek en gesondheidswerkers aangemoedig om die waardigheid en privaatheid van mense met geestesgesondheidsprobleme te beskerm. Sensitiewe persoonlike inligting moet met begrip en deernis hanteer word, eerder as om die onderwerp van bespotting en gerugte te word.
“Julle skinder en maak TikTok-videos,” het Siteketa verlede Vrydag tydens die herdenking van Wêreldgeestesgesondheidsdag op Nkurenkuru gesê.
“Ons moet luister en probeer verstaan wat die probleem is. Vra eerder wat kan daaraan gedoen word?”
Die verspreiding van gerugte en skinderpraatjies oor mense met geestesgesondheidstoestande kan hul toestand vererger, het sy gewaarsku. Sy het die publiek ook gevra om op te hou om ander se persoonlike probleme as vermaak te beskou en ’n bespotting van hulle te maak.
“Ons moet onsself leer, in plaas daarvan om oor ander te praat,” het sy gesê.
Mense moet eerder besef wanneer ’n probleem professionele hulp vereis en dié in nood na die regte dienste verwys.
Volgens Siteketa strek die verantwoordelikheid om stigma rondom geestesgesondheid te bekamp veel verder as hospitale en klinieke. Families, gemeenskappe en die breër samelewing moet help om ’n omgewing te skep waarin mense openlik oor hul probleme kan praat en hulp kan kry sonder die vrees vir vernedering.
BYDRAENDE FAKTORE
In haar toespraak het Siteketa gesê geestesgesondheid word deur verskeie faktore beïnvloed, waaronder armoede, werkloosheid, dwelmmisbruik, sosiale isolasie, gesinsprobleme en beperkte geleenthede. Hierdie uitdagings kan mense van enige ouderdom, agtergrond of sosiale status raak. Begrip en toeganklike ondersteuning is daarom noodsaaklik.
Die herdenking is onder die tema “Geleefde ervarings gehoor: Ware stemme, ware verandering”, gehou. Dit beklemtoon die belangrikheid daarvan om na mense met persoonlike ervaring van geestesgesondheidsprobleme te luister wanneer dienste en ondersteuningstelsels ontwikkel word.
“Laat ons meer luister, minder oordeel en met deernis optree,” het Siteketa gesê.
Sy het beklemtoon luister alleen is nie genoeg nie en praktiese stappe is nodig om toegang tot dienste te verbeter en ondersteuningstelsels te versterk.
“Wanneer daar na mense se ervarings geluister word, kan lewens verander. Wanneer lewens verander, word gesinne sterker en wanneer gesinne sterker word, word ons hele streek sterker,” het sy gesê.
DIENSTE VERSTERK
Siteketa se boodskap volg nadat visepresident Lucia Witbooi aangedring het op volgehoue pogings om geestesgesondheidsdienste te versterk. Sy het gewys op diskriminasie, mishandeling en uitsluiting wat mense met geestesgesondheidstoestande steeds ervaar.
Witbooi het Saterdag by die geestesgesondheidsentrum van die Windhoek Sentrale Hospitaal gesê dié mense moet betrek word by besluite wat hul lewens raak en met waardigheid behandel word.
Meer as 100 000 kontakgeleenthede met geestesgesondheidsdienste is volgens haar gedurende die 2024-’25-verslagtydperk aangeteken. Dit het ongeveer 91 500 konsultasies met buitepasiënte en 11 400 hospitaalopnames ingesluit, volgens syfers wat voorheen deur die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste bekend gemaak is.
Hierdie syfers weerspieël die gebruik van dienste en sluit nie noodwendig almal in wat geestesgesondheidsprobleme ervaar sonder behandeling of voldoende ondersteuning nie.
STIGMA
Mense wat tydens die herdenking hul ervarings gedeel het, het vertel van mishandeling deur familielede en probleme om werk te kry weens die stigma wat met geestesgesondheidstoestande gepaardgaan.
Sommige was huiwerig om op kamera te verskyn, omdat hulle gevrees het dat openbare identifisering as iemand met ’n geestesgesondheidstoestand tot verdere diskriminasie en verwerping kon lei.
Hul ervarings bewys stigma kom nie net in skinderpraatjies na vore nie, maar raak ook in familieverhoudings en werksplekke – plekke waar mense aanvaarding en ondersteuning behoort te ervaar.
Witbooi het gesê mense met persoonlike ervaring van geestesgesondheidsprobleme moet gehoor word om sorg te verbeter. Sy het hulle aangemoedig om hul stories te deel om skadelike stereotipes uit te daag en ander te help om hulp te soek.
“Ons stories is nie net vertellings van ervarings nie; dit is bloudrukke vir ’n beter stelsel,” het sy gesê.
Sy het bygevoeg mense met geestesgesondheidstoestande moet as aktiewe deelnemers aan die ontwikkeling van gesondheidsbeleide en -dienste beskou word, eerder as blote pasiënte.
Witbooi het ook gewys op Namibië se selfdoodsyfers, wat volgens haar die geraamde gemiddelde vir Afrika oorskry. Dit beklemtoon volgens haar die behoefte aan groter aandag aan geesteswelstand.
Intussen het die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Esperance Luvindao, ’n verklaring en openbare verbintenis oor geestesgesondheid onderteken. Daarin het sy onderneem om befondsing vir geestesgesondheid vanaf die 2027-’28-boekjaar jaarliks met minstens 4% te verhoog. Die verbintenisse sluit ook in dat geestesgesondheidsgeriewe uitgebrei, spesialisopleiding versterk en toegang tot dienste verbeter word.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie