Lugambulans midde medisynetekorte

Toegerus met intensiewesorgeenheid
Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste het gesê die bekendstelling van die ambulansdiens beteken nie die ministerie het sy planne laat vaar om gesondheidsdienste nader aan inwoners te bring nie.
Tuyeimo Haufiku

Te midde van etlike maande se voortslepende akute tekorte aan noodsaaklike medisyne by openbare hospitale en klinieke oraloor die land, het Namibië nou sy eerste staatsbeheerde lugambulansdiens. 

Die diens bestaan ​​uit ’n Learjet wat toegerus is met gevorderde mediese toerusting om as ’n intensiewesorgeenheid in die lug te dien, asook helikopter-ontruimingsdienste wat deur samewerking met die Namibiese polisie en die Namibiese weermag verkry is.

Die ambulansdiens is Woensdag amptelik deur visepresident Lucia Witbooi bekend gestel. 

Volgens Witbooi is dit ’n stap in die rigting van universele gesondheidsdekking en verbeterde toegang tot mediese noodsorg, veral vir pasiënte in afgeleë gebiede.

Dit sal na verwagting reistye per pad verkort en kritieke of beseerde pasiënte in staat stel om vinniger by tussentydse of nasionale verwysingshospitale uit te kom.

Witbooi het gesê geen Namibiër behoort sy of haar lewe te verloor bloot omdat hy of sy ver van ’n hospitaal af woon nie. Volgens haar sal die ware sukses van die inisiatief gemeet word aan lewens wat gered is, tragedies wat voorkom is, en “hoop wat vinnig aan gesinne teruggegee is”.

Die nuwe lugambulans kom teen die agtergrond van toenemende woede en frustrasie van die man op straat wat afhanklik is van die staat vir noodsaaklike medikasie vir chroniese en lewensgevaarlike toestande en vir wie dit ’n eerste prioriteit van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste behoort te wees.


SKENKING 

Die gesondheidsminister, dr. Esperance Luvindao, het tydens die bekendstelling van die lugambulans gesê geen geld is aan die Learjet bestee nie. 

Volgens Luvindao is dit ’n ten volle opgeknapte skenking van die ministerie van werke en vervoer. Die regering se lugvervoerdiens sal, in samewerking met die werke- en gesondheidsministerie, toegewyde vliegtuie en vlieëniers verskaf.

Gespesialiseerde mediese personeel wat opgelei is om kritieke sorg te verskaf, sal pasiënte vergesel, terwyl toegewyde nooddienssentrums by nasionale verwysingshospitale pasiëntoorhandigings en kontinuïteit van sorg sal fasiliteer.

Sy het erken daar is steeds vrae oor die tekort aan verwysingshospitale om toegang tot gesondheidsorg landswyd te verbeter. 

Luvindao het gesê die bekendstelling van die ambulansdiens beteken nie die ministerie het sy planne laat vaar om gesondheidsdienste nader aan die mense te bring nie. 

“Om hospitale te bou, kos geld – honderde miljoene, soms selfs miljarde, op die vlak van verwysingshospitale. 

“Die ministerie het teruggegaan na die tekenbord om te kyk wat ons intussen kan doen. Ons móét hospitale bou, en ons werk baie hard daaraan om te verseker dat ons in die volgende paar jaar vier hospitale van hoë gehalte oprig. 

“Maar terwyl ons daardie hospitale bou, het Namibiërs steeds dienste en dringende vervoer nodig,” het sy gesê.


VOORGESETTE STRYD

Intussen het Martha Namadi vertel van haar ma se voortgesette stryd om haar noodsaaklike medikasie vir hoë bloeddruk by die staat te kry – medikasie wat dikwels nie beskikbaar is nie. Haar broer gebruik medikasie vir sy geestesgesondheid, wat hy nou noodgedwonge maandeliks by private apteke moet koop.

Volgens haar is die tekorte aan noodsaaklike en chroniese medikasie ’n “werklikheid” – ’n feit wat deur ’n 80-jarige pensioenaris beaam word.

“Ek het hartmedikasie wat ek moet gebruik, maar dis nooit beskikbaar nie. Die apteekpersoneel by die hospitaal is ook uiters oneerbiedig en hul antwoord is eenvoudig daar is nie en dit is nie hulle probleem nie,” het hy gesê. 

Hy het ook bevraagteken waarom Namibië medikasie aan Kuba stuur, terwyl plaaslike tekorte nie getakel word nie.

“Ek het absoluut niks teen Kuba en sy mense nie, maar jy help hulle, terwyl jou eie mense hier nie medikasie het wat hul lewens kan red nie. Ons word absoluut gefaal,” het hy gesê.

Pasiënte het onder meer gewys op tekorte aan medikasie vir diabetes en hoë bloeddruk by die hospitale op Omuthiya en Rehoboth. In Windhoek is hartmedikasie na bewering reeds die afgelope drie maande nie beskikbaar nie, terwyl kankerpasiënte ook nie geholpe kan raak met medikasie wat nodig is ná chemoterapie nie.


VERKRYGING 

Vyf maande gelede het die ministerie die publiek se frustrasie erken, met die uitvoerende direkteur Penda Ithindi wat toe gesê het daar word gewerk om die verkrygingstelsel te herstel. Volgens Ithindi was die plan ook om ’n meer betroubare voorsieningsketting vir farmaseutiese produkte te vestig. Toe is die ministerie se nasionale diensvlak vir farmaseutiese voorraad op 60% beraam teenoor ’n teiken van minstens 80%.

Die diensvlak meet die totale hoeveelheid medisyne en voorrade wat afgelewer is, vertolk as ’n persentasie van die hoeveelhede wat deur gesondheidsgeriewe landswyd bestel is. Dit beteken nie dat 60% van alle individuele medisyne beskikbaar was nie.

Ithindi het toe verduidelik die ministerie maak staat op nood- en direkte verkryging om onmiddellike tekorte te takel. Terselftertyd word aan reëlings gewerk vir grootmaataankope om voorrade op die lang termyn te stabiliseer.

Hy het ook gesê maandeliks terugvoer sal oor die aflewering van farmaseutiese en kliniese produkte gegee word, sowel as maatreëls wat getref word om die beskikbaarheid van voorraad te verbeter.

In Augustus is aangekondig 58 mediese produkte wat dringend benodig is, is sedert middel Julie ontvang en versprei. Dit het 46 soorte medikasie en 12 soorte kliniese voorrade ingesluit. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer