Landelike vroue het meer kinders
Vroue in Namibië se landelike gebiede het gemiddeld sowat vyf kinders elk, vergeleke met effens meer as die drie van vroue in dorpe en stede in die land.
Volgens die jongste bevindinge vervat in tematiese verslae van die 2023-bevolkings- en behuisingsensus blyk dit die syfer het in landelike gebiede toegeneem, terwyl die nasionale gemiddeld onveranderd gebly het.
Die bevindinge is gister deur Alex Shimuafeni, die statistikus-generaal van die Namibiese Statistiekagentskap (NSA), bekend gemaak.
Volgens die verslag oor vrugbaarheid het die syfer in landelike gebiede van 4,6 kinders per vrou in 2011 tot vyf in 2023 toegeneem. Die syfer in stedelike gebiede het op 3,2 gebly, terwyl die nasionale gemiddeld onveranderd gebly het op 3,9 kinders per vrou.
Shimuafeni het vier tematiese verslae voorgelê wat handel oor vrugbaarheid, sterftes, migrasie en bevolkingsprojeksies.
Die verslae skets ’n prentjie van hoe Namibië se bevolking verander en hoe dit oor die volgende drie dekades kan ontwikkel. Dit dui ook aan dat vroue toenemend op ’n latere ouderdom kinders kry, vroue byna nege jaar langer as mans leef en dat minder kinders voor hul vyfde verjaardag sterf.
Namibië se bevolking kan volgens die NSA se projeksie vir mediumgroei teen 2053 ook sowat 5,26 miljoen bereik.
Die vrugbaarheidsyfers, wat op die 2023-sensus gebaseer is, beraam hoeveel kinders ’n vrou gedurende haar leeftyd sou hê indien die huidige geboortepatrone sou voortduur.
Kavango-Wes het die hoogste vrugbaarheidskoers aangeteken met 5,5 kinders per vrou, gevolg deur Ohangwena en Omaheke met 5,2 elk.
Khomas het die laagste syfer aangeteken met 2,7 kinders per vrou, gevolg deur Erongo met drie en Oshana met 3,2. Op nasionale vlak het die vrugbaarheidskoers oor die afgelope drie dekades aansienlik afgeneem: van 6,1 kinders per vrou in 1991 tot 4,1 in 2001 en 3,9 in 2011. Die afname het egter tussen 2011 en 2023 tot stilstand gekom.
Vrugbaarheid in landelike gebiede het van 6,8 kinders per vrou in 1991 tot 4,6 in 2001 gedaal. Dit het in 2011 op 4,6 gebly voordat dit teen 2023 tot vyf gestyg het.
Vrugbaarheid in stedelike gebiede het intussen van 4,7 kinders per vrou in 1991 tot 3,2 in 2011 gedaal en het in 2023 onveranderd op hierdie vlak gebly.
Geboortes onder tieners het ook afgeneem. In 2023 was daar ongeveer 62 geboortes vir elke 1 000 meisies en jong vroue tussen die ouderdomme van 15 en 19, vergeleke met 76 in 2001 en ongeveer 68 in 2011.
Ten spyte van die afname het geboortes in hierdie ouderdomsgroep ongeveer 10% tot die nasionale vrugbaarheidsyfer bygedra, met die hoogste syfer wat in Kavango-Wes aangeteken is.
Die verslag oor sterftes toon dat sterftes onder babas jonger as een jaar van 67 per 1 000 lewende geboortes in 1991 tot 26,2 in 2023 gedaal het. Sterftes onder kinders voor hul vyfde verjaardag het oor dieselfde tydperk van 87 tot ongeveer 39 per 1 000 lewende geboortes afgeneem.
Daar is egter steeds verskille tussen landelike en stedelike gebiede. Landelike gebiede het 29,3 babasterftes per 1 000 lewende geboortes aangeteken, vergeleke met 23 in stedelike gebiede.
Hardap het die hoogste babasterftesyfer aangeteken, naamlik 42,6 sterftes per 1 000 lewende geboortes, gevolg deur Omaheke met 35,7. Khomas het die laagste syfer van 19,4 aangeteken.
Die nasionale syfer vir moedersterftes het in 2023 op ongeveer 193 sterftes per 100 000 lewende geboortes gestaan, ’n afname van die 225 wat in 1992 aangeteken is.
Omaheke het die hoogste syfer aangeteken, met ongeveer 543 sterftes per 100 000 lewende geboortes, gevolg deur Hardap met ongeveer 393. Erongo het die laagste syfer van ongeveer 100 aangeteken.
Volgens die adjunkminister van gesondheid en maatskaplike dienste, Suzan Ndjaleka, sal die bevindinge owerhede help om in die vraag na gesondheidsdienste te voorsien en mobiele klinieke en gesondheidswerkers te ontplooi voordat gemeenskappe onder erge druk kom.
“Wanneer nedersettings vinnig sonder infrastruktuur uitbrei, neem die gesondheidsrisiko’s wat van sanitasie tot die uitbreking van siektes insluit, beduidend toe,” het Ndjaleka gesê.
Erika Goldson, die verteenwoordiger van die Verenigde Nasies se Bevolkingsfonds (UNFPA) in Namibië, het gesê inligting oor geboortepatrone kan die regering help om gesinsbeplanning, dienste vir seksuele en reproduktiewe gesondheid vir jongmense, sowel as sorg vir ma’s en pasgebore babas, te verbeter.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie