‘Kommerwekkende patroon’ in moeder-, babasterftes
Nuusredaksie
Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het potensiële vennote genader om te help met die finansiering van die konstruksie van ’n skuiling op Engela vir swanger vroue.
Swanger vroue wat van ander dorpe reis moet glo tans naby die gesondheidsgeriewe kamp, terwyl hulle wag om geboorte te skenk.
Die huidige situasie op Outapi en Engela is deur die United Democratic Front (UDF) se hoofsweep, Nico Somaeb, in die Nasionale Vergadering geopper.
Somaeb wou by die gesondheidsminister, dr. Esperance Luvindao, weet watter reëlings word veral in die komende reënseisoen vir die vroue getref.
Volgens Luvindao het Outapi reeds ’n skuiling vir swanger vroue en dat haar ministerie sal moet vasstel waarom die vroue eerder glo kamp as om die bestaande geriewe te gebruik.
“Dit sal interessant wees om te verstaan waarom hulle daar langs die pad is. Ons het ’n skuiling daar,” het sy gesê.
Luvindao het gesê sy wou meer inligting van Somaeb hê en sal amptenare van die ministerie betrek om vas te stel of die bestaande skuiling voldoende kapasiteit het om die vroue te huisves.
“Miskien kan ons saam met my span aan daardie kant kyk of die kapasiteit van die spesifieke skuiling nie genoeg is nie.”
Volgens Luvindao is die ministerie bewus van die behoefte vir ’n skuiling vir swanger vroue op Engela, na herhaalde klagtes en versoeke.
Die minister het gesê die ministerie het potensiële vennote genader om die projek te help finansier. Sy het egter nie die name van moontlike finansiers, hoeveel die konstruksie sal kos en wanneer dit sal kan begin, bekend gemaak nie.
“Ons het reeds met sommige vennote geskakel om te probeer kyk of ons hierdie spesifieke projek kan finansier. Natuurlik kos dit geld. En ongelukkig is dit een van verskeie gebiede wat hierdie skuilings vir swanger vroue benodig.”
Luvindao het gesê Engela is een van verskeie gebiede wat die tipe skuilings nodig het. Sy sal vervolgens met Somaeb skakel om vas te stel wat onmiddellik gedoen kan word om die betrokke vroue wat na bewering kamp, te help.
STERFTES
Die kommer oor huisvesting vir swanger vroue kom midde Luvindao wat ’n afsonderlike parlementêre ondersoek in die gesig staar oor moeder- en neonatale sterftes en bewerings van mediese nalatigheid by openbare gesondheidsgeriewe.
Die Independent Patriots for Change (IPC) se skaduminister vir gesondheid, Lilani Brinkman, die tydens die bespreking vir Luvindao kennis gegee dat sy vrae gaan stel oor onlangse voorvalle rakende moeder- en neonatale gesondheidsorg in openbare geriewe.
Brinkman het drie gevalle aangehaal, insluitend ’n vroeggebore baba wat na bewering twee tone verloor het terwyl hy in die hospitaal opgeneem is. Hy sou later met sy volgende opname in die hospitaal sterf. Nóg ’n vroeggebore baba het na bewering ’n kopbesering tydens geboorte opgedoen en daarna gesterf.
Brinkman het ook verwys na die dood van ’n ma en haar pasgeborene by die Eenhana-distrikshospitaal. In dié geval is die 39-jarige Johanna Hekandjo van die Etope-nedersetting en haar babaseuntjie op 30 Augustus in die hospitaal dood terwyl sy in kraam was.
Volgens haar familie was dit weens beweerde nalatigheid en het gevra vir ’n ondersoek na die ma en seuntjie se dood.
Brinkman het gesê die voorvalle waarna sy verwys, is nie die enigste gevalle nie en het gewys op die aansienlike bedrae wat die regering in die verlede aan mediese nalatigheidseise moes betaal.
“Vergoeding kan ’n eis skik, maar dit kan nooit ’n ma, ’n pasgeborene of ’n geliefde terugbring nie,” het sy gesê.
Sy het Luvindao gevra om te verduidelik wat agter die “ontstellende patroon” steek. Brinkman het gevra of personeeltekorte en moegheid, onvoldoende kapasiteit, gebrek aan toerusting, vertraagde verwysings, swak toesig of mislukkings in kliniese bestuur bydraende faktore kan wees.
Sy wil ook hê dat die ministerie bekend moet maak hoeveel gevalle van moeder- en neonatale sterftes of beweerde mediese nalatigheid sedert 2025 aangemeld is en hoeveel tans ondersoek word.
Brinkman het verder gevra watter maatreëls die ministerie ingestel het om te verseker dat lesse uit vorige gevalle geleer is en dat soortgelyke voorvalle nie herhaal word nie.
Sy wil ook hê Luvindao moet bekend maak hoeveel die ministerie in 2026 in mediese nalatigheidseise betaal het, of aanspreeklik is om te betaal, en watter deel van daardie eise verband hou met moeder- en neonatale sorg.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie