FOTO TER ILLUSTRASIE/ARGIEF
FOTO TER ILLUSTRASIE/ARGIEF

Kankermedikasie weer beskikbaar

Aflewerings landswyd by staatsgeriewe
Die medikasie vorm deel van die jongste aflewerings van 47 noodsaaklike farmaseutiese en kliniese voorraaditems.
Rita Kakelo

Medikasie vir die behandeling van kankerpasiënte is deel van 47 noodsaaklike farmaseutiese en kliniese voorraaditems wat landswyd by openbare gesondheidsgeriewe afgelewer is.

Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het in ’n verklaring gesê dit vorm deel van die jongste aflewerings aan staatsgeriewe. Van die medikasie wat op kankerbehandeling gemik is, sluit in Hydroxyurea-kapsules, sowel as Gemcitabine-, Irinotecan-, Cytarabine-, Filgrastim-, Rituximab- (10 mg en 500 mg) en Fluorouracil-inspuitings.

Die jongste aflewerings van voorrade sluit 27 medikasies in, asook 20 kliniese voorraaditems wat landswyd onder staatsgeriewe versprei word.

Ander belangrike medikasie wat nou weer beskikbaar is, sluit in Acyclovir-tablette, paracetamol-stroop, antibiotika soos Clindamycin-, Ampisillien-, Co-trimoxazole- en Cefuroxime-inspuitings, tuberkulose-medikasie, toetsstelle vir MIV/vigs, heparien-inspuitings, Nifedipien-tablette met stadige vrystelling, binneaarse vloeistowwe, Silver Sulfadiazine-brandroom, Simvastatine-tablette, vitamienaanvullings asook Oksitosien-inspuitings.

Volgens die ministerie vorm die aflewerings deel van die voortgesette dringende verkrygingsmaatreëls wat ten doel het om onmiddellike tekorte te takel.

Dit terwyl grootmaat-verkryging op die lang termyn steeds aan die gang is om voorraadvlakke by openbare gesondheidsgeriewe te stabiliseer.

Die jongste opdatering deur die gesondheidsministerie volg nadat dit die wydverspreide tekorte aan noodsaaklike medisyne en kliniese voorrade by staatsgeriewe erken het.

Volgens die ministerie maak dit staat op nood- en direkte verkrygingsmaatreëls om medisynevoorrade by alle geriewe op te bou.

Volgens die verklaring word bykomende aflewerings van noodsaaklike medisyne in die komende weke verwag. Voorraadvlakke word ook steeds gemonitor namate pogings voortduur om tekorte oraloor die land te takel. 

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer