Kaaronda druk Luvindao oor pasiënt se dood
Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste sal optree indien mediese nalatigheid bevestig is.
Minister Esperance Luvindao het die versekering in die parlement gegee in reaksie op die dood van ’n pasiënt in die distrikshospitaal op Otjiwarongo. Die dood van Elijah Laurenzo Areseb het wyd reaksie op sosiale media uitgelok, met die gemeenskap van Otjiwarongo wat ook ’n protesoptog teen beweerde nalatigheid gehou het.
Parlementslid Evilastus Kaaronda wou Woensdag in die Nasionale Vergadering (NV) by Luvindao weet watter stappe die ministerie gaan neem nadat Areseb se dood voor die deur van beweerde mediese nalatigheid geplaas is.
“Daar is iemand by die hospitaal in Otjiwarongo dood as gevolg van nalatigheid. Is die minister bewus hiervan? En watter stappe word geneem?” wou Kaaronda weet.
Luvindao het in reaksie verwys na ’n mediaverklaring wat Dinsdag uitgereik is waarin die ministerie bevestig hy het verskeie navrae oor bewerings van mediese nalatigheid ontvang.
In die verklaring betuig die ministerie hul diepgaande meegevoel met Areseb se familie, vriende en die gemeenskap van Otjiwarongo.
“Die verlies van ’n jong lewe is ’n tragedie wat ons almal raak en ons deel in die seer van die familie. Ons erken die pyn en frustrasie van die familie en lede van die gemeenskap in rou,” lui die verklaring.
Die ministerie het beklemtoon hy sal optree indien enige oortredings bevestig word. Dit gee ook die publiek die versekering dat sou die ondersoek enige bewyse van nalatigheid, afwyking van kliniese protokolle of administratiewe mislukking vind, toepaslike regstellende en dissiplinêre stappe gedoen sal word om aanspreeklikheid te verseker.
Luvindao het in die NV die ministerie se toewyding tot die ondersoek herhaal en gesê dit is verbind tot deursigtigheid.
“Ons sal die bevindinge en die pad vorentoe kommunikeer wanneer die proses voltooi is,” het sy gesê.
MANDAAT
In die verklaring het die ministerie se uitvoerende direkteur, Penda Ithindi, beklemtoon die ministerie bly verbind tot sy mandaat om toeganklike, bekostigbare en gehaltesorg aan alle Namibiërs te verskaf.
Luvindao het op haar beurt gesê hoewel die ministerie die gemeenskap se behoefte aan onmiddellike antwoorde verstaan, moet die korrekte prosedure gevolg word om by die regte gevolgtrekking te kom.
Die minister het aan Kaaronda gesê sou hy oor bewyse van nalatigheid in Areseb se dood beskik, hy dit moet voorlê om die ministeriële ondersoek te bespoedig. Die omvattende ondersoek fokus op die kliniese bestuur en omstandighede van Areseb se sorg.
Luvindao het Kaaronda gevra om enige verslae van beduidende bewyse van die betrokke hospitaal, met tydstempels, te oorhandig, wat kan bewys Areseb se dood was weens nalatigheid.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie