Die pa hou sy dogtertjie se lewelose liggaampie in sy arms vas. Foto verskaf
Die pa hou sy dogtertjie se lewelose liggaampie in sy arms vas. Foto verskaf

Interne ondersoek ná babadogtertjie se dood

Geen medisyne by Berseba-kliniek
Die tragedie kom te midde van voortgesette klagtes van verwaarlosing en ondoeltreffendheid by die staatshospitaal op Keetmanshoop.
Aurelia Afrikaner
’n Jong ma se lewe het Maandagmiddag in duie gestort toe haar twee maande oue babadogtertjie in haar arms gesterf het en sy tot ná 22:00 met haar baba se lykie moes sit.

Die 23-jarige ma van Berseba se baba het omstreeks 14:30 in haar arms gesterf, ten spyte van herhaalde besoeke aan die plaaslike kliniek in die dae voor haar dood. Wat gevolg het, was ’n traumatiese agt uur wat sy met haar baba se lewelose liggaam moes sit en wag op ’n ambulansdiens wat nie gereageer het nie en afwesige polisiebeamptes van die nabygeleë Tses.

“Die ambulans het gekom, maar hulle het gesê hulle kan nie die lykie vat nie, omdat hulle die polisie nodig het. Die polisie het egter nooit opgedaag nie,” het die baba se tannie gesê.

“Sy het die baba drie keer kliniek toe gevat. Hoekom het hulle haar nie na Keetmanshoop oorgeplaas nie? Hoekom moes dit so eindig?” het sy gevra.

Volgens haar het die babadogtertjie Maandagoggend nog geglimlag, maar teen 12:00 het haar ma opgemerk iets is fout.

“Sy was besig om haar vas te hou toe sy sien hoe haar toestand begin verander. Sy het gehardloop om haar ouma te gaan bel wat naby bly. Toe haar ouma opdaag, het sy na die baba gekyk en vir haar gesê sy lewe nie meer nie,” het die tannie gesê.

Die lykie is later deur die familie met private vervoer na Keetmanshoop geneem.

“Die verpleegsters het vir ons gesê daar is geen medisyne by die Berseba-kliniek nie, maar het nie eens probeer om ons ten minste Keetmanshoop toe te stuur nie.”

In ’n hartverskeurende video wat op sosiale media die ronde doen, word die baba se pa gesien waar hy sy dogtertjie se lewelose liggaampie in sy arms vashou.

“Wanneer hulle wil hê ons moet stem, ry hulle uit in die hitte en stof om ons te kry. Maar wanneer ons hulp nodig het, is ons alleen,” het hy bitter gesê.

’n Bron het aan Network Media Hub (NMH) gesê verpleegsters kon gesien word waar hul buite die hospitaal op Keetmanshoop sit waar hulle glo op hul fone was, terwyl die pa met sy lewelose dogtertjie daar aangekom het.

Buiten vir die emosionele trauma van die verlies van hul baba, weet die ouers nie hoe hulle hul dogtertjie gaan begrawe nie.

“Ek het by die massabehuisingsprojek op Keetmanshoop gewerk, maar is vir twee maande nie betaal nie,” het die pa gesê.

“Nou moet ek probeer maniere vind hoe ek my dogtertjie gaan begrawe.”

Die familie het ’n beroep op barmhartige Samaritane gedoen om met die begrafniskoste te help.

Die tragedie kom te midde van voortgesette klagtes van verwaarlosing en ondoeltreffendheid by die staatshospitaal op Keetmanshoop.

Pasiënte wat na Windhoek vervoer sou word, was Maandag sedert 07:00 steeds gestrand, met geen kommunikasie oor of en wanneer hulle sou vertrek nie.

“Hierdie probleem is niks nuuts nie. Dit gaan sedert 2021 so aan,” het ’n bejaarde pasiënt gesê.

“Sommige van ons reis ver van plase af net om te kom sit en weer terug te gaan sonder dat ons enigsins gehelp is,” het die pasiënt gesê.

Gert Titus, ’n lid van die gemeenskap, het die sentimente beaam.

“Ons het e-posse geskryf, oproepe gemaak en die ministerie gesmeek om ons te hoor. En daar is net stilte. Die ministerie het ons van die begin af gefaal,” het Titus gesê.

Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste se woordvoerder, Walters Kamaya, het bevestig die ministerie is bewus van die voorval.

“Die ministerie is daarvan bewus en is besig met ’n interne ondersoek om vas te stel wat werklik gebeur het,” het hy gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer