Hoop vorder tree vir tree
Die Steps2Walk Namibië se chirurgiese program vir 2026 het amptelik afgeskop en met 47 ortopediese pasiënte wat vir lewensveranderende voet- en enkelrekonstruktiewe chirurgie vir drie dae by die Windhoek Sentrale Hospitaal en Lady Pohamba Privaat Hospitaal geskeduleer is.
Die program bring internasionale ortopediese spesialiste, Namibiese gesondheidswerkers en afgevaardigdes van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) byeen.
Dit het hierdie week amptelik begin met evaluasies van pasiënte wat reeds gedoen is en operasieteaters wat ten volle funksioneel is.
’n Hoogtepunt van vanjaar se inisiatief is Namibië se aanvaarding van die intensiewe model van drie teaters per dag, wat die land saam met Malawi plaas as een van slegs twee lande binne die Steps2Walk-netwerk wat hierdie uitgebreide chirurgiese benadering implementeer.
Die model verhoog die aantal pasiënte wat binne ’n kort tydsraamwerk behandel kan word aansienlik, terwyl dit terselfdertyd geleenthede vir vaardigheidsoordrag en chirurgiese opleiding versterk.
Tydens die amptelike bekendstelling Maandag het die waarnemende hoof- mediese beampte van die Windhoek Sentrale Hospitaal, dr. Senorita Polster, die inisiatief as ’n transformerende oomblik vir openbare gesondheidsorg in Namibië beskryf.
“Elke menslike reis, elke ambisie en elke druppel potensiaal begin met ’n enkele stap, maar vir duisende kinders en volwassenes wat met klompvoet en komplekse voet- en enkelmisvormings gebore word, word daardie fundamentele menslike aksie deur fisiese beperkings, chroniese pyn en sosiale isolasie belemmer.”
Polster het beklemtoon dat toestande soos klompvoete, wat ongeveer een uit elke 1 000 kinders wêreldwyd raak, tot lewenslange gestremdheid kan lei indien dit nie behandel word nie. Sy het daarop gewys dat in hulpbronbeperkte omgewings vroeë ingryping dikwels beperk is, wat uitkomste vererger en siklusse van uitsluiting versterk.
“Hierdie week gaan nie net oor chirurgie nie. Dit gaan oor die herstel van waardigheid, mobiliteit en geleenthede vir pasiënte wat met toestande leef wat heeltemal behandelbaar is.”
Die Steps2Walk-inisiatief word gelei deur die wêreldbekende ortopediese chirurg, dr. Mark Myerson, stigter en president van Steps2Walk. Hy is ook die mediese direkteur van die Institute for Foot and Ankle Reconstruction by die Mercy mediese sentrum in Baltimore in die Verenigde State van Amerika (VSA).
“Die betekenis van die lewe is om jou doel te vind; die doel van die lewe is om dit weg te gee,” het hy oor die doelwit van die program gesê.
Sy woorde het die program se breër filosofie beklemtoon: Die kombinasie van kliniese uitnemendheid en humanitêre impak, veral in onderbediende gesondheidstelsels.
OORDRAG VAN KENNIS
Benewens die chirurgiese ingrypings fokus die program ook sterk op langtermyn-kapasiteitsbou binne Namibië se gesondheidstelsel. Internasionale fakulteitslede werk sy aan sy met plaaslike chirurge om gespesialiseerde vaardighede in voet- en enkelrekonstruksie oor te dra, wat volhoubare verbeterings in ortopediese sorg verseker lank nadat die besoekende spanne vertrek het.
Polster het hierdie aspek as ’n kritieke uitkoms van die inisiatief beklemtoon en gesê dat kennisoordrag net so belangrik soos die operasies self is.
“Hierdie samewerking verseker dat ons plaaslike spesialiste met gevorderde tegnieke en blootstelling aan komplekse gevalle bemagtig word, wat Namibië se vermoë versterk om in die toekoms onafhanklik gespesialiseerde sorg te lewer,” het sy gesê.
Vanjaar weerspieël ook toenemende openbare-private samewerking in Namibië se gesondheidsektor. Organiseerders het bevestig dat ’n outoklaaf – ’n noodsaaklike toestel vir die sterilisasie van mediese toerusting, instrumente en vloeistowwe in chirurgiese omgewings – deur FirstRand Namibia via FNB Namibia geskenk is.
Volgens organiseerders het die kombinasie van gevorderde chirurgiese kundigheid, verbeterde infrastruktuur en gekoördineerde veeltallige teateroperasies van vanjaar se program tot dusver die grootste impak.
Vir pasiënte en families wat uit al 14 streke van Namibië gereis het, beteken die program veel meer as mediese ingryping – dit bied hernude onafhanklikheid, minder pyn en die moontlikheid van herintegrasie in onderwys, werk en daaglikse lewe sonder fisiese beperkings.
Terwyl operasies deur die week voortduur, bly die fokus volgens organiseerders stewig op beide die onmiddellike uitkomste van pasiënte en die langtermyn-versterking van ortopediese dienste in Namibië en die breër SADC-streek.
Die program sluit sorg ná die operasies en opvolgassesserings in as deel van die gestruktureerde behandelingspad.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie