Foto ter illustrasie/argief
Foto ter illustrasie/argief

Hoogste hof beslis oor ondersoek na heffing op medisyne

Iréne-Mari van der Walt
Die hooggeregshof het teen die Namibiese Mededingingskommissie (NaCC) beslis in ‘n appélaansoek wat gefokus het op die beweerde heffing van 50% op alle medikasie wat volgens die NaCC deur die Aptekersvereniging van Namibië (PSN) afgedwing word.

Die appèl het gehandel oor die vraag of die NaCC wettiglik die statutêre mag aan sy sekretaris mag delegeer om 'n ondersoek te begin wat voortspruit uit bewerings van langdurige eenvormige prysverhogings binne die farmaseutiese sektor en moontlik op prysvasstelling neerkom.

Die PSN het egter volgehou dat die sekretaris nie by magte is om hierdie besluit te neem nie, terwyl die NaCC se verweer was dat take wat verband hou met enige van die kommissie se funksies aan lede van sy personeel toegeken kan word.

"Die feite oor hoe [die PSN] pryse bepaal, hoe die metode gevolg word en hoe aptekers wat nie die metode volg nie, na bewering deur die PSN hanteer word, is vir alle praktiese doeleindes 'n gemeenskaplike waarheid tussen die partye. So ook die feit dat die besigheid wat gegenereer word deur op die prysmetode staat te maak, 'n aansienlike deel van die besigheid van aptekers uitmaak. Verder word die standpunt van die [die PSN] om hierdie metode te regverdig, duidelik gestel,” het hoofregter Peter Shivute, adjunkhoofregter Petrus Damaseb en appèlregter Theo Frank in hul uitspraak gesê.

Dus, meen die volbank regters, kan die kommissie ’n besluit neem oor die ondersoek na die PSN gebaseer op die feite wat tydens die hofsaak in die hoërhof aan die lig gekom het.

"Die saak word terugverwys na [die kommissie] om, gebaseer op die inligting wat in die rekord van hierdie appèl bekend gemaak is, te bepaal of die ondersoek teen die respondente voortgesit moet word, en indien wel, om óf verdere ondersoeke te doen wat nodig geag word en die saak dienooreenkomstig af te handel. Of, indien dit nie nodig geag word om verdere ondersoeke te doen nie, om te bepaal of daar voortgegaan moet word ingevolge artikel 38 van die Mededingingswet 2 van 2003 en of die proses gevolg moet word wat in daardie artikel beoog word," lui die uitspraak.

Die kommissie se ondersoek na die PSN fokus op die moontlikheid dat die 50%-heffing prysvasstelling is. Die PSN sê op sy beurt dat die heffing nie deur hulle vasgestel word nie, maar deur die breër netwerk van mediese fondse in Namibië.

"Inligting wat deur Prosperity [Health] aan die kommissie verskaf is, en wat bevestig is deur apteke soos Paramount Pharmacy en Dischem, is dat PSN vir ’n lang tyd ’n reël toepas dat al sy lede 'n 50%- fooi op alle medisyne moet hef. Dus word 30% van hierdie heffing deur die mediese fondse betaal en die ander 20% deur die spesifieke lid as 'n bybetaling," lui hofdokumente. Volgens die NaCC kom die beweerde praktyk neer op prysvasstelling, wat billike mededinging in die farmaseutiese mark ondermyn en die koste van noodsaaklike medisyne vir plaaslike verbruikers onregverdig opblaas.

Inligting wat in in die hof aan die lig gekom het toon dat apteke sagteware gebruik wat die heffing outomaties byreken wanneer medisyne uitgereik word. Prysvasstelling van kommoditeite, hetsy goedere of dienste, het volgens die NaCC die kunsmatige gevolge dat dit mededinging uitsluit en die keuses wat verbruikers het om sulke kommoditeite teen redelike en bekostigbare pryse te verkry, beperk. Die PSN, wat die meer as 200 apteke wat betrek word in die beskuldigdebank verteenwoordig, ontken op hul beurt enige oortreding. Volgens die vereniging word daar geen verpligte prysreël deur die PSN afgedwing nie en word enige winsmarge of afslag na goeddunke van individuele apteke toegepas. Die PSN het vroeër in ’n verklaring gesê die toepaslike kostestrukture is “spesifiek so ontwerp om die algemene publiek teen uitbuiting en misbruik te beskerm”.

Network Media Hub (NMH) het in 2018 berig prysvasstelling deur meer as 200 geregistreerde apteke in Namibië, sowel as die PSN word deur die NaCC ondersoek. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-03-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer