FOTO TER ILLUSTRASIE. FOTO UNSPLASH
FOTO TER ILLUSTRASIE. FOTO UNSPLASH

Honger, depressie styg

Vyf miljoen onder ouderdom van vyf sterf
Volgens 'n nuwe verslag deur die Verenigde Nasies (VN) was daar agteruitgang in letterlik elke sleutelmaatstaf om die welstand van vroue en kinders te bepaal.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die impak van konflik, die Covid-19-pandemie en klimaatsverandering het ’n verwoestende uitwerking op die vooruitsigte vir kinders, jongmense en vroue gehad.

Voedselonsekerheid, honger, kinderhuwelike, risiko vir geweld in verhoudinge, depressie onder tieners en angs het met rasse skrede gestyg.

Volgens ’n nuwe verslag deur die Verenigde Nasies (VN) was daar agteruitgang in letterlik elke sleutelmaatstaf om die welstand van vroue en kinders te bepaal.

Verlede jaar is ’n beraamde 25 miljoen kinders glad nie of net gedeeltelik ingeënt, ses miljoen meer as in 2019. Miljoene kinders kon tydens die pandemie nie skool toe gaan nie, met sowat 80% van kinders in 104 lande wat ’n agterstand in onderrig het. Sedert die aanvang van die globale pandemie het 10,5 miljoen kinders ’n ouer of ’n versorger as gevolg van Covid-19 verloor.

Volgens die verslag, Protect the Promise, is ’n kind wat in ’n lae-inkomsteland gebore word, se lewensverwagting met geboorte sowat 63 jaar. Dit in vergelyking met 80 in lande met ’n hoë inkomste. In 2020 het vyf miljoen kinders voor die ouderdom van vyf gesterf, meestal aan voorkombare of behandelbare siektes. Die meeste stilgeboortes en sterftes onder ma’s, swanger vroue, kinders en tieners kom in Afrika suid van die Sahara en Suid-Asië voor.

In dieselfde jaar het 45 miljoen kinders aan akute wanvoeding gelei, ’n lewensbedreigende toestand wat hul kwesbaar vir sterftes, vertraging in ontwikkeling en siektes maak. Byna driekwart van dié kinders woon in laer-middelinkomstelande.

’n Verbysterende 149 miljoen het in 2020 vertraagde groei gehad. Afrika is die enigste streek waar die aantal kinders met vertraagde groei die afgelope 20 jaar vanaf 54,4 miljoen in 2000 tot 61,4 miljoen in 2020 gestyg het.

Die ses lande met die hoogste aantal ontheemde mense – Afghanistan, die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK), Ethiopië, Soedan, die Siriese Arabiese Republiek en Yemen – is ook onder die tien lande met die grootste voedselonsekerheid.

Volgens die verslag is die risiko vir ’n vrou in Afrika suid van die Sahara sowat 130 keer hoër om te sterf aan swangerskapverwante oorsake of tydens bevallings as vroue in Europa en Noord-Amerika.

Miljoene kinders en hul gesinne ervaar ook emosionele en fisieke trauma as gevolg van humanitêre rampe in Afghanistan, Ethiopië, Pakistan, Somalië, Oekraïne en Yemen.

Verlede jaar is ’n rekord 89,3 miljoen mense wêreldwyd uit hul huise verdryf weens oorlog, geweld, vervolging en skending van menseregte.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2022-12-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer