FOTO UNSPLASH, ter illustrasie
FOTO UNSPLASH, ter illustrasie

Hoë risiko vir ernstig siek pasiënte

Saamgestelde medikasie ’n noodsaaklike alternatief
Die Novecy-apteek vervul 'n kritieke funksie om saamgestelde medisyne aan pasiënte te verskaf wat andersins nie sulke medisyne sou kon bekostig of by ander apteke kon kry nie.
Henriette Lamprecht
’n Samestellende apteek in Windhoek het ’n eis in die hoërhof teen onder meer die Namibiese medisynebeheerraad (NMRC) ingedien dat ’n besluit ter syde gestel word dat Novecy Pharmacy nie wettiglik toegelaat word om hul saamgestelde produkte te verkoop en te versprei wat teen ’n geldige voorskrif saamgestel is nie.

Die NMRC sowel as die registrateur van medisyne (derde respondent) het Methealth Administrators (Pty) Ltd. (vierde respondent) gevolglik opdrag gegee om geen eise uit te betaal vir medikasie wat deur Novecy saamgestel en verkoop word nie. Methealth is die administrateur van drie mediese fondse.

Me. Riana Potgieter, samestellende apteker by Novecy, sê in haar eedsverklaring die apteek het die kritieke funksie vervul om saamgestelde medisyne aan pasiënte te verskaf wat andersins nie sulke medisyne sou kon bekostig of by ander apteke kon kry nie.

Sodoende is oor ’n tydperk van vier jaar sowat 3 000 pasiënte bereik wat andersins nie gehelp sou word nie. Potgieter maan daar is byna daagliks geen voorraad in die land van ’n sekere vervaardigde medikasie (of die generiese weergawe) nie.

BESKIKBAARHEID

Wanneer vervaardigde of generiese medisyne nie in die land beskikbaar is nie, het apteke geen ander alternatief as om dit aan te koop soos dit deur Novecy saamgestel is nie. Doen hulle dit nie, is pasiënte sonder hul medikasie, wat hoogs riskant vir hul gesondheid kan wees.

Potgieter het verwys na veral kankerbehandeling en in veral chemoterapie wat dikwels nie in die land beskikbaar is nie. Gevolglik koop die Namibië Onkologiesentrum (NOC) die saamgestelde chemoterapie van Novecy.

“Sonder hulp in dié geval is enige pasiënt met kanker ongelukkig bestem om veel gouer te sterf as wat andersins die geval sou wees.”

Voorbeelde van noodsaaklike medikasie wat deur Novecy saamgestel word, is Palonosetron wat daagliks deur NOC gebruik word vir pasiënte wat binneaarse chemoterapie ontvang en wat naarheid beveg (onbeskikbaarheid hiervan het sommige pasiënte genoodsaak om hul behandeling uit te stel); Nevirapine-stroop wat gebruik word om te verhoed dat babas van MIV-positiewe ma’s die virus deur middel van geboorte of borsvoeding kry, asook die antidepressant Buproprion wat in 2019 van die Namibiese mark gehaal is.

Laasgenoemde word op aanvraag van ’n sielkundige saamgestel wat sê twee van sy pasiënte wat op dié medikasie was, het selfdood gepleeg toe dit nie meer in die land beskikbaar is nie.

Die bogenoemde voorbeelde is nie geregistreer in Namibië nie en nie in die kommersiële mark beskikbaar nie.

‘ONGELISENSIEER’

Volgens die NMRC het Novecy ’n lisensie om rou medisinale produkte in te voer en strek die lisensie nie tot die verspreiding van die saamgestelde produkte na ander gesondheidsgeriewe nie. Die verspreiding van die saamgestelde produk aan ander gesondheidsgeriewe is dus “ongelisensieer en onwettig”.

Novecy is geaffilieer by twee van die drie grootste samestellende groepe ter wêreld, Fagron en Medisa, wat streng in hul eie lande en ook volgens Europese en Amerikaanse standaarde gereguleer word. Dit beteken Novecy koop gespesialiseerde basisse soos rome, strope en korrels ens. van bogenoemde verskaffers.

Novecy het ’n invoerlisensie soos vereis in die wet vir medisyne en verwante middele wat toestemming verleen om rou materiaal wat in medisyne gebruik word (middele) en wat geskeduleer is of nie, in te voer.

In die geval van die invoer van skedule 3 en 4-middele, verkry Novecy die vereiste bykomende permit. Wanneer ’n saamgestelde medikasie ’n geskeduleerde middel bevat, kan dié medisyne slegs volgens die wet op voorskrif verkoop word. Potgieter sê ten spyte van die feit dat sy vir dié lisensie kwalifiseer, is dit nog nie aan haar uitgereik nie.

By navraag aan die Raad vir Gesondheidsberoepe in Namibië (HPCNA) was die antwoord die medisynebeheerraad (NMRC) het nog nie die riglyne uitgereik nie en daarom word dié betrokke permitte nie aan enige aptekers uitgereik nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2022-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer