Gobabis se riool stink steeds

Annemarie du Toit

Gobabis-inwoners het nasionale owerhede versoek om dringend in te gryp nadat ’n beweerde rioollekkasie wat reeds op 28 Februarie aangemeld is, volgens hulle steeds nie herstel is nie. 

Die klag is in ’n amptelike brief vervat wat verlede Maandag aan verskeie regeringsinstansies en toesighoudende liggame gestuur is.

Die brief, opgestel deur inwoner Lehana Nel, beskryf die situasie as ’n ernstige risiko vir openbare gesondheid, die omgewing en dienslewering in die dorp. 

Volgens Nel vloei onbehandelde riool glo steeds in die oopte, sonder voldoende optrede of duidelike terugvoer aan inwoners.

Sy voer verder aan dat die saak nou selfs dringender geword het te midde van berigte oor ’n verdere polio-uitbreking op Gobabis. Volgens haar kan swak sanitasie en infrastruktuurprobleme openbare gesondheidsuitdagings vererger indien daar nie vinnig opgetree word nie.

Die brief is onder meer aan die ministers van gesondheid en maatskaplike dienste en stedelike en landelike ontwikkeling gerig, asook die ombudsman, die ouditeur-generaal, die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC), die kantoor van die president, die goewerneur van die Omahekestreek en die uitvoerende hoof van die Gobabis-munisipaliteit.

Nel versoek dat die gesondheidsministerie onmiddellik ’n evaluering van die gesondheidsrisiko van die betrokke gebied doen en omgewingsgesondheidsbeamptes ontplooi. 

Sy vra ook dat voorkomende maatreëls ingestel word en dat daar met plaaslike owerhede saamgewerk word om die rioolprobleem dringend op te los.

Aan die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling word gevra om toesig oor die munisipaliteit se hantering van die kwessie uit te oefen en te bepaal of die plaaslike owerheid steeds in staat is om noodsaaklike dienste doeltreffend te lewer.

Die brief vra verder dat die ombudsman ondersoek instel na moontlike voortgesette wanadministrasie en of vorige aanbevelings reeds uitgevoer is. 

Die ouditeur-generaal word versoek om die munisipaliteit se finansiële en operasionele vermoëns te hersien, terwyl die ACC gevra word om moontlike magsmisbruik of versuim van pligte te oorweeg.

Nel verwys ook na ’n vorige verslag van die kantoor van die ombudsman van 2025 waarin daar glo kommer uitgespreek is oor administratiewe ongeregtighede, finansiële uitdagings en verswakte dienslewering binne die Gobabis-munisipaliteit. 

Volgens haar dui die huidige rioolkrisis daarop dat sommige van daardie probleme moontlik steeds voortduur.

In die brief word amptelike terugvoer geëis oor die huidige status van die aangemelde rioollek, redes vir die vertraging, watter amptenare verantwoordelik is en watter nood- en langtermyn-maatreëls ingestel gaan word.

Teen druktyd was daar nog geen reaksie van die Gobabis-munisipaliteit op herhaaldelike navrae van oor die bewerings nie.

[email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-06-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer