Nu00E1 12 jaar is dit die enigste bewys van u0027n beloofde distrikshospitaal op Nkurenkuru. FOTO ARGIEF
Nu00E1 12 jaar is dit die enigste bewys van u0027n beloofde distrikshospitaal op Nkurenkuru. FOTO ARGIEF

Gesondheidsgeriewe se verval

Swak toesig deur verantwoordelike ministeries
Mediese afval wat by ’n openbare terrein gestort word, kontrakteurs wat eenvoudig sonder enige aanspreeklikheid wegstap en ’n kliniek wat vanuit ’n tent bedryf word.
Tuyeimo Haufiku

Meer as ’n dekade nadat die voormalige staatshoof Hifikepunye Pohamba in 2014 die eerste sooi gespit het waar die Nkurenkuru-distrikshospitaal sou verrys, het daar buiten vir vandalisme en duwweltjies nog dadels van gekom.

’n Herhalende tema in ’n verslag van die parlementêre staande komitee oor geslagsgelykheid, gesondheid en maatskaplike welsyn is kontrakteurs wat eenvoudig projekte laat vaar sonder om enige boetes in die gesig te staar. 

In een geval moes pasiënte noodgedwonge in ’n tent en ’n verpleegsterswoning behandel word, aangesien permanente geriewe nog nie voltooi was nie. Die komitee het verlede jaar vanaf 21 Julie tot 29 Augustus gesondheidsgeriewe in 10 streke van die land besoek. 

Die verslag wat vandeesweek in die parlement voorgelê is, gee besonderhede oor wydverspreide vertragings, onvoltooide konstruksiewerk en projekte wat nooit van die grond gekom het nie. Dit word aan ontoereikende befondsing, vertragings in verkrygingsprosesse en swak monitering deur die verantwoordelike ministeries toegeskryf.

Met verwysing na die konstruksie van die Nkurenkuru-distrikshospitaal in Kavango-Wes, is bevind ’n primêre gesondheidsorgfasiliteit is op die terrein voltooi, maar die beplande distrikshospitaal is nooit gebou nie, terwyl dele van die terrein deur vandale beskadig is.

Eerste minister Elijah Ngurare het in Mei vanjaar aangekondig die regering het befondsing vir die bou van die hospitaal bekom.

By Sachona in die Zambezi het die komitee ’n kliniek gevind wat sedert September 2024 vanuit ’n tent bedryf word, terwyl ’n uitbreiding van twee vertrekke onvoltooid gebly het.

Die komitee is ingelig die betrokke kontrakteur het daarna nog ’n tender gekry, ten spyte daarvan dat hy nie die kliniekprojek voltooi het nie. Volgens die verslag is die kontrakteur laas tydens die eerste week van Augustus 2024 by die fasiliteit gesien. ’n Verpleegsterswoning wat nabygeleë is en in die 1960’s gebou is, is intussen in ’n pakkamer en apteek sonder lugversorging omskep.

By Muyako, ook in die Zambezi, het die komitee gevind dat gesondheidsorgdienste vir meer as 10 jaar vanuit ’n verpleegsterswoning met twee slaapkamers gelewer is.

Die fasiliteit het geen lopende water of toilette vir pasiënte gehad nie en pasiënte het geen beskutting teen die hitte gehad nie. Tydens reënweer is verpleegkundiges en pasiënte gedwing om in die klein gebou saam te drom.

“Daarbenewens word geen boetes gehef op kontrakteurs wat onderpresteer nie, wat tot ondoeltreffendheid en swak dienslewering lei,” luidens die verslag.

Die komitee het bevind sommige projekte is vir jare lank laat vaar, sonder dat enigiemand aanspreeklik gehou is. Dit is deels toegeskryf aan ’n gebrek aan gereelde inspeksies deur die verantwoordelike ministeries.

Volgens die verslag is sommige fondse wat vir infrastruktuur vir gesondheid tydens die betrokke boekjare toegeken is, na ander projekte herlei in plaas daarvan dat dit vir hul beoogde doel aangewend is. 

Die inspeksies het die ||Kharas, Hardap, Omaheke, Oshana, Omusati, Ohangwena, Kavango-Wes, en -Oos, Zambezi en Otjozondjupa ingesluit.

In Oshana is die voorgestelde Ondangwa-distrikshospitaal, wat in 2016 goedgekeur is, weens befondsingsbeperkings op ys geplaas.

Die afwesigheid van ’n distrikshospitaal het bykomende druk op die Oshakati-staatshospitaal geplaas, waar die komitee tydens sy besoek 737 pasiënte aangeteken het. Die hospitaal se ongevalle-afdeling het ook pasiënte vir buitepasiëntdienste hanteer.

In Omaheke het opgraderings aan klinieke, insluitend Aminuis, tot stilstand gekom, terwyl die Gobabis-distrikshospitaal nie oor ’n operasiesaal beskik nie. Die projek vir die operasiesaal is reeds sedert 2017 aan die gang.

By sommige geriewe het ’n enkele ambulans verskeie klinieke bedien. In die Zambezi het een ambulans sewe gesondheidsfasiliteite bedien en moes pasiënte meer as vier uur wag vir vervoer na Katima Mulilo.

Die komitee het ook bevind voertuie was vir lang tydperke buite werking, soms weens geringe foute. Die aflewering van medisyne aan klinieke het tussen twee en drie weke geduur weens ’n gebrek aan voertuie. In Omusati was slegs 61 van die streek se 130 voertuie operasioneel.


‘HONDE VREET PLASENTAS’

Die verslag het ook ernstige probleme met sanitasie en lykshuise uitgewys. 

By Tsumkwe is mediese afval by ’n oop terrein gestort waartoe die publiek toegang gehad het. Hier is na bewering gesien hoe honde plasentas vreet.

Die kliniek se lykshuis was na bewering reeds vyf jaar lank buite werking. Tydens die komitee se besoek is drie liggame in ’n polisielykshuis gestoor, wat vir twee ontwerp is, met twee liggame wat bo-op mekaar geplaas is.

Intussen het gesondheidswerkers melding gemaak van oormatige werksladings, onbetaalde of vertraagde oortydbetaling en emosionele uitputting.

Die komitee het op ’n arbeidsoudit, die vereffening van geldige uitstaande eise vir oortydwerk en sielkundige ondersteuning vir gesondheidswerkers aangedring.

Daar is voorgestel dat die ministerie van gesondheid kwartaallikse vorderingsverslae aan die parlement voorlê om die implementering van die aanbevelings te monitor. 

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-10-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer