Inwoners moet steeds noodgedwonge water koop of kook. FOTO Kenya Kambowe
Inwoners moet steeds noodgedwonge water koop of kook. FOTO Kenya Kambowe

Gesoek: Gekwalifiseerde personeel vir wateraanleg

‘Clostridium’-bakterie in Tsumeb se water
Kenya Kambowe
Die munisipaliteit van Tsumeb wag op ’n kapitaalinspuiting van die regering om gekwalifiseerde personeel aan te stel vir sy waterbehandelingsaanleg waarop meer as N$30 miljoen bestee is.

Dit is om te help met die teenwoordigheid van die bakterie Clostridium wat in die dorp se water ontdek is en uit die ondergrondse waterdraer kom.

Intussen moet inwoners steeds water kook of koop.

In November verlede jaar het die dorp se burgemeester, Mathews Hangula, aan Network Media Hub (NMH) gesê die kwessie sal vroeg vanjaar getakel word, nadat die konstruksie van die aanleg in Mei verlede jaar begin het.

Sommige inwoners het die situasie as “ondraaglik” beskryf.

“Dit het deel geword van ons daaglikse lewe waar ons gedwing word om water te kook, wat ons krageenhede uitput.

“Krag is reeds duur en om water by die winkels te koop is ook duur as jy dit daagliks doen. Stel jou nou voor hoeveel ’n mens oor drie jaar bestee. Dis net te veel,” het ’n inwoner wat op voorwaarde van anonimiteit gesê.

“Jy gaan koop water, terwyl jy dit reeds by die huis het. Aan die einde van die maand word jy gedwing om jou munisipale rekeninge, tariewe en belasting te betaal, maar jy het jou geld uitgeput om hout, gas, krageenhede te koop of bloot water te koop. Dit is nie regverdig nie.”

Om ’n 5 liter-houer vol te maak, kos dit ongeveer N$10, afhangende van waar jy die water koop. By gevestigde kleinhandelwinkels kan die N$10 jou slegs ’n 500 ml- of 1 liter-bottel water koop.



GELD

In ’n onderhoud met NMH gister het Hangula verduidelik dat die waterbehandelingsaanleg voltooi is en daar net gewag word vir iemand om dit te bedryf, wat tans die uitdaging is.

Volgens Hangula het die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming met die voltooiing van die aanleg verlede jaar die plaaslike owerheid ingelig hulle het nie die kapasiteit in terme van gekwalifiseerde personeel om die aanleg te bedryf nie.

“Die aanleg is verlede jaar reeds voltooi. Die enigste uitdaging wat ons nou het, is die feit dat ons nie die personeel het om dit te bedryf nie,” het hy gesê.

Op die vraag waarom meer as N$30 miljoen aan ’n aanleg bestee is, maar dan nie die personeel daarvoor het nie, het Hangula gesê dit was versuim aan die kant van die plaaslike owerheid en die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling wat die kabinetsbesluit aan hulle oorgedra het.

Volgens hom het die munisipaliteit sedert verlede jaar aan die lynministerie geskryf om finansiële bystand te versoek sodat die bedrywighede van die aanleg uitgekontrakteer kan word.

Hangula het ook verduidelik die munisipaliteit het verlede jaar probeer om die watertarief te verhoog om sodoende die bykomende fondse te gebruik om die bedrywighede van die aanleg te dek. Dit is egter met sterk weerstand aan die kant van die gemeenskap begroet te midde van die reeds hoë ekonomiese las.

“Ons wag nou net vir die ministerie om op ons versoek te reageer. Ek hoop alles sal binnekort uitwerk,” het hy gesê.

Toe die burgemeester gevra is waarom NamWater nie genader is om die fasiliteit te bestuur nie, het hy gesê om ’n grootmaatwaterverskaffer te betrek, sal water duurder vir inwoners maak.

Hy het optimisme uitgespreek dat die aanleg, sodra dit in werking is, Tsumeb se langdurige watergehalte-uitdagings, insluitend “harde” water en bakteriese besmetting, permanent sal oplos.

Ten spyte van die feit dat inwoners met besmette water te kampe het, het die raad volgens Hangula nog geen berigte ontvang van inwoners wat siek geword het nie en het inwoners geprys vir die nakoming van gesondheidsmaatreëls.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer