Forensiese ondersoek na NIP se voertuigskema
Die regering, deur die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, het ’n forensiese ondersoek gelas na die Namibië Instituut vir Patologie (NIP) se omstrede voertuigskema van N$5,3 miljoen vir uitvoerende hoofde.
Die ouditfirma, KPMG, is na bewering aangestel om die ondersoek te doen. Regeringsbronne wat met die saak vertroud is, het aan Network Media Hub (NMH) gesê dat gesondheidsminister dr. Esperance Luvindao die ondersoek gelas het ná kommer oor die verkryging, eienaarskap en bestuur van voertuie wat ingevolge die skema aan senior uitvoerende beamptes toegeken is.
Luvindao het gisternamiddag bevestig dat die ondersoek tans aan die gang is.
Die ondersoek sal na verwagting die verkrygingsproses, kontraktuele reëlings en die huidige status van die voertuie ondersoek, insluitend ’n Mercedes-Benz wat vir die voormalige uitvoerende hoof, Kapena Tjombonde, aangekoop is en wat ná haar vertrek in Januarie vanjaar in NIP se besit gebly het.
Dokumente wat NMH gesien het, dui verder daarop dat die forensiese ondersoek verder strek as die voertuigskema, asook verkrygingsprosesse, bestuursake, uitgawerekords, skenkings en die aanstelling van eksterne diensverskaffers insluit, onder meer Vybrand Advertising CC.
NMH het verlede jaar berig dat NIP vir Vybrand Advertising CC as handelsmerkdiensverskaffer aangestel en N$520 000 betaal het – ondanks die verkrygingskomitee se aanbeveling daarteen.
Die forensiese span het dokumente wat op hierdie tender betrekking het, aangevra, insluitend onder meer tenderindienings, tenderkomitee-beraadslagings, raadsgoedkeuringsrekords, toekenningsbriewe en die ondertekende ooreenkoms tussen NIP en die maatskappy.
Die voertuigskema het in 2023 vir die eerste keer onder openbare ondersoek gekom nadat mediaberigte onthul het dat NIP N$5,3 miljoen aan voertuie vir vyf senior hoofde bestee het as deel van hul salarispakkette.
Benewens Tjombonde is die uitvoerende beamptes wat by die skema gebaat het: Oaitse van Staden (hoof van menslike hulpbronne), Nabot Uushona (hoof- tegniese beampte), Vincent Nowaseb (hoofbedryfsbeampte) en Scholastika Mwetulundila (hoof- finansiële beampte).
Dokumente wat NMH gesien het, toon dat NIP N$1,1 miljoen vir Tjombonde se Mercedes-Benz betaal het. Uushona het ’n Ford Ranger-voertuig ter waarde van N$1 miljoen ontvang, terwyl Nowaseb ’n Nissan ter waarde van N$987 034 toegeken is. NIP het verder ’n Toyota Fortuner ter waarde van N$1,1 miljoen vir Van Staden gekoop en ’n Volkswagen Amarok van N$1 miljoen vir Mwetulundila.
Dokumente dui aan dat die betalings op 17 en 28 November 2023 gemaak is. Ter verdediging van die aankope destyds het die voormalige uitvoerende hoof, Kapena Tjombonde, gesê die voertuigskema vorm deel van die uitvoerende hoofde se salarispakkette en is “’n uitbreiding van die byvoordele” wat aan senior bestuur toegestaan word.
“Onder die goedgekeurde skema bly die voertuie bates in die boeke van die NIP en diegene wat kwalifiseer het die gebruiksreg – amptelik en privaat. Ná ’n tydperk van vyf jaar is daar ’n bepaling vir ’n eerste opsie om die voertuig te koop,” het Tjombonde destyds gesê.
Die forensiese ondersoek kom op ’n tydstip wanneer verskeie uitvoerende hoofde se kontrakte hul vervaldatum nader. Ná Tjombonde se uittrede in Januarie vanjaar is Nowaseb as waarnemende uitvoerende hoof aangestel.
Nowaseb se kontrak as hoofbedryfsbeampte verstryk vandeesmaand, net soos dié van NIP se hoofbeampte van strategie- en besigheidsontwikkeling, Niita Evaristus. Mwetulundila se kontrak kom in Oktober vanjaar tot ’n einde.
Bronne wat met die saak vertroud is, sê die forensiese ondersoek, wat na bewering verlede maand begin het, sal ook na verwagting besluite beïnvloed oor of uitvoerende hoofde se kontrakte hernu moet word.
Volgens die bronne beoog die ministerie om die bevindinge van die forensiese oudit te gebruik om te help bepaal of bestaande uitvoerende hoofde in hul poste moet bly en of veranderinge aan die leierskapspan nodig mag wees.
Gevra oor die forensiese ondersoek en die moontlike implikasies daarvan vir uitvoerende hoofde se kontrakte, het Nowaseb geweier om kommentaar te lewer en gesê die saak val binne die ministerie se domein.
“Die ministerie van gesondheid is regtig die beste geskik om oor hierdie saak te praat, nie ek nie. Ek kan nie daaroor kommentaar lewer nie,” het Nowaseb aan NMH gesê.
Evaristus het egter verduidelik dat, hoewel die waarnemende hoof uitvoerende beampte gemagtig is om die kontrakte van sekere uitvoerende beamptes te hernu, hy nie sy eie kontrak kan hernu nie, aangesien dit onder die gesag van die raad val.
Vroeër vanjaar het NIP aan NMH bevestig dat die Mercedes-Benz wat aan Tjombonde toegeken is, die eiendom van die instelling gebly het en ná die verstryking van haar kontrak in NIP se besit was.
“Die betrokke voertuig behoort aan NIP en is as sodanig in NIP se besit. Wat die voormalige uitvoerende hoof se belang by die voertuig betref, is dit ’n kontraktuele aangeleentheid tussen NIP en die voormalige uitvoerende hoof.
“Die maatskappy sal nie buite sy kontraktuele verpligtinge optree nie,” het NIP destyds gesê. Die forensiese ondersoek sal na verwagting vasstel of die verkryging en bestuur van die uitvoerende hoofde se voertuie aan toepaslike vereistes vir bestuur, verkryging- en kontraktuele vereistes voldoen het.
NIP is in 2000 gestig om mediese laboratoriumdienste in Namibië te lewer en speel ’n kritieke rol in die land se gesondheidsorgstelsel.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie