Finansiering vir gesondheid onder die loep
’n Parlementslid van die Independent Patriots for Change (IPC), Michael Mulunga, het besonderhede oor ’n finansieringsfasiliteit van N$1 miljard van die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) vir infrastruktuur vir gesondheid geëis.
Mulunga het ook ’n beroep gedoen op antwoorde oor die rentekoers, tydperk van terugbetaling en hoeveel van die geld reeds bestee is.
Hy het Dinsdag in die Nasionale Vergadering (NV) vrae oor hierdie aangeleentheid aan die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Esperance Luvindao, gerig. Mulunga het Luvindao ook gevra om die kontrak tussen die ministerie en die DBN, wat die finansiering van N$1 miljard reguleer, ter tafel te lê.
Hy het versoek dat, indien die volledige kontrak nie bekend gemaak kan word nie, die minister die kernbepalings en -voorwaardes aan die parlement verskaf, insluitend die rentekoers, terugbetalingstydperk en enige voorwaardes verbonde aan die uitbetaling van die lening.
Mulunga het ook ’n opdatering versoek oor die vordering wat ingevolge die program gemaak is, asook ’n uiteensetting van hoeveel van die N$1 miljard tot dusver bestee is en hoeveel aan elk van die vyf projekkategorieë toegeken is.
Hy het gesê N$50 miljoen is aan die Nkurenkuru-hospitaal vir fase twee toegewys, N$30 miljoen aan die Otjiwarongo-hospitaal vir ontwerp en dokumentasie en N$50 miljoen aan Ondangwa vir fase een.
Altesaam N$170 miljoen is aan die Windhoek-hospitaal vir ’n lewensvatbaarheidstudie toegeken, sowel as N$700 miljoen vir ontwerp en ander aspekte.
Mulunga het die toewysing van fondse bevraagteken vir lewensvatbaarheidstudies en ontwerpe vir projekte wat, volgens die parlementslid, reeds daardie stadiums voltooi het.
Die DBN het in April aangekondig hy het N$1 miljard aan die land se nasionale infrastruktuurprogram vir gesondheidsorg, ingevolge Namibië se Road Map-inisiatief, uitbetaal.
Volgens die DBN sou die fondse aangewend word vir die konstruksie en kerninfrastruktuur van die Windhoek-distrikshospitaal, wat oor 500 beddens sal beskik. Die distrikshospitaal het ten doel om kritieke tekorte aan hospitaalbeddens in die Khomasstreek te takel.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie