Ekstra helende hande

Phillipus Josef

’n Mediese span van 24 vrywilligers uit Singapoer, Maleisië en die Verenigde Koninkryk het tydens ’n weeklange humanitêre sending in Namibië spesialisgesondheidsorg aan meer as 500 pasiënte verskaf en 35 operasies uitgevoer. Die spesialiste het vrywillig hul tyd aangebied en hul eie reiskoste gedek om aan die uitreik-aksie deel te neem.

Tydens die sending wat deur Singapoer se Amitofo Care Centre (ACC) en Global Clinic gereël is, het spesialiste by ACC Namibia, die Otjiwarongo-staatshospitaal asook by ’n uitreikkliniek in tandheelkunde op Otavi diens verrig.  

Die span het 504 spesialiskonsultasies uitgevoer, insluitend dermatologie, pediatrie, ginekologie, tandheelkunde en chirurgie. Die chirurgiese span het 35 operasies uitgevoer, insluitend die herstel van breuke en die verwydering van groot gewasse.

Die afvaardiging het ook twee suigmasjiene, ’n ultraklankstelsel en ’n fetale monitor aan die Otjiwarongo-staatshospitaal geskenk.

Benewens die behandeling van pasiënte, het die besoekende spesialiste saam met Namibiese gesondheidswerkers gewerk, vaardighede gedeel en plaaslike mediese spanne tydens konsultasies en chirurgiese prosedures ondersteun. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer