‘Dit is nie malkamp of groendakkies’
Die hoof van die staat se sorgeenheid vir geestesgesondheid, dr. Hilen Ndjaba, sê die publiek moet ophou om na die geriewe as die “malkamp” of “groendakkies” te verwys. Volgens Ndjaba versterk die neerhalende terme die stigma oor geestesgesondheid.
Sy was Dinsdag aan die woord tydens die oorhandiging van 75 matrasse ter waarde van N$200 000 wat deur die Capricorn-stigting geskenk is.
“Ek hou nie van daardie woorde nie. Ek wil nie hê ons moet aanhou om hierdie plek die ‘groendakkies’ of ‘malkamp’ te noem nie. Ons moet almal geestelik gesond wees om in die samelewing te kan funksioneer,” het Ndjaba gesê.
Sy het na geestesgesondheid as ’n verwaarloosde onderwerp verwys en gemeenskappe en organisasies versoek om groter verantwoordelikheid te neem om geestesgesondheidsinisiatiewe en -geriewe waar hulp nodig is, te ondersteun.
Marlize Horn, die Capricorn Groep se hoof van sy handelsmerk en korporatiewe sake, het gesê die skenking volg op gesprekke met die eenheid se bestuur om die dringendste behoeftes te identifiseer.
“Ons was al ’n paar keer hier om met dr. Ndjaba en die bestuur van die eenheid te vergader om werklik te verstaan wat die behoeftes is. Vir ons by die Capricorn-stigting gaan dit nie net oor die uitskryf van ’n tjek nie, maar om ’n impak te maak en ’n positiewe verandering te skep,” het Horn gesê.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie