Chirurgiese naald 20 jaar later 'ontdek'
Jare van pyn en ongemak
Dit is na bewering in 2002 in die vrou agter gelaat na die geboorte van haar kind.
'n Vrou van Windhoek eis meer as ‘n miljoen in skadevergoeding, nadat ‘n chirurgiese naald meer as twee dekades later in haar ontdek en verwyder is.
Die chirurgiese naald is na bewering in 2002 tydens die geboorte van haar kind agtergelos, met N$1,5 miljoen wat van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste geëis word.
Die vrou wie se identiteit weerhou word om haar privaatheid te beskerm, het die eis ingedien ‘n jaar nadat ‘n ginekoloog by die Katutura-staatshospitaal die naald tydens opvolgondersoeke ontdek het
Volgens hofdokumente het mediese personeel by die staatshospitaal op Otjiwarongo versuim om die chirurgiese naald na die uitvoer van ‘n keisersnee en die herstel van ‘n perineale skeur op 1 Junie 2002 te verwyder.
“Op 1 Junie 2002, terwyl die klaer kraampyne ervaar het, is sy in die Okakarara-staatskliniek opgeneem. Nadat sy ondersoek is, is sy na die bevallingskamer oorgeplaas. ‘n Senior verpleegster het opgemerk dat sy nog nie voldoende ontsluit het nie en het vir haar gesê om te stap in ‘n poging om die kraamproses te versnel,” lui die hofdokumente.
Die vrou is gevolglik per ambulans na die staatshospitaal op Otjiwarongo vervoer, omdat die kliniek net een dokter beskikbaar gehad het wat op hierdie tydstip na ongelukslagoffers omgesien het.
Tydens die oordrag na die staatshospitaal het die vrou na bewering haar bewussyn verloor en eers met haar aankoms van haar omgewing bewus geword. Sy was toe 29 jaar oud.
Sedertdien het sy volgehoue pyn, ongemak en herhaalde infeksies oor die jare ervaar saam met ‘n vrees vir seksuele intimiteit. Sy het by verskeie staatsgeriewe vir behandeling gaan aanklop waaronder die Robert Mugabe-kliniek, asook die Khomasdal- en Katutura-gesondheidsentrums in Windhoek. Volgens die besonderhede van haar eis is sy herhaaldelik huis toe gestuur met pynmedikasie, antibiotika en verwysings – sonder voldoende ondersoek na die oorsaak van haar simptome.
Die chirurgiese naald is eers op 26 September verlede jaar in haar linkerlabia ontdek en is later in die Katutura-staatshospitaal verwyder.
Die klaer voer aan dat die ministerie se mediese personeel versuim het om, ten spyte van haar voortdurende klagtes oor meer as 20 jaar, die verwagte standaard van sorg toe te pas of om haar na ‘n spesialis te verwys.
Sy beweer die voortdurende lyding het emosionele trauma, vrees vir seksuele intimiteit, fisieke pyn en ‘n beduidende verlies aan lewenskwaliteit veroorsaak. Haar skadevergoedingseis sluit in N$500 000 vir emosionele lyding, N$500 000 vir trauma en angs, N$250 000 vir fisiese beserings, N$250 000 ongemak en pyn en N$50 000 vir verwagte sielkundige berading in. Die ministerie wat deur die regering se regsverteenwoordiger verteenwoordig word, moet nog sy pleit indien. Volgens die senior regsbeampte, Deon Ndana, sukkel die ministerie ten spyte van herhaalde versoeke om instruksies van die staatshospitaal op Otjiwarongo te kry. Die ministerie beplan om aansoek om uitstel te doen om sy pleit en teeneis in te dien.
Die saak is tot 4 Februarie aanstaande jaar vir ‘n verwysing vir mediasieverhoor uitgestel.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie