FOTO TER ILLUSTRASIE. FOTO ARGIEF
FOTO TER ILLUSTRASIE. FOTO ARGIEF

Buitelandse gegradueerde wil as leerlingdokter registreer

Net drie uit verpligte agt rotasies in drie jaar voltooi
'n Aansoek by die mediese en tandheelkundige raad se appèlkomitee vir kondonasie en appèl is vroeër met koste van die hand gewys.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - ’n Houer van ’n mediese diploma wat sy in Julie 2016 aan die Ogarev Mordovia Universiteit in Rusland verwerf het, het ’n aansoek in die hoërhof teen die mediese en tandheelkundige raad van Namibië gebring onder meer omdat haar registrasie as leerlingdokter geskrap is.

Haar aansoek by die raad se appèlkomitee vir kondonasie en appèl is vroeër met koste van die hand gewys. Volgens die komitee kon me. Manene Liisa Lovis Nangula Uundjondjo nie ’n redelike verduideliking gee vir die vertraging in haar aansoek vir die verlenging van haar internskap en ook redelike vooruitsigte vir sukses toon nie.

Volgens die voorsitter van die raad se appèlkomitee, mnr. G.B. van Pletzen, is Uundjondjo ná afloop van haar studies aangemoedig om ’n vooraf registrasie-evaluering vir mediese gegradueerdes te ondergaan. Sy het in haar eerste poging misluk omdat haar werk “substandaard” was. Sy is aangemoedig om haar kennis en vaardighede te verskerp en dat sy ná vier maande vir herevaluering vanaf die einde van Augustus 2016 kan aansoek doen.

In Desember dieselfde jaar is sy weer geëvalueer en in Februarie 2017 is haar werk weer as substandaard beskryf. Uundjondjo is aangeraai om ’n remediërende program by ’n opleidingshospitaal, deur die raad geïdentifiseer, vir ’n jaar te ondergaan in ’n poging om die nodige kliniese vaardighede te bekom. Na afloop van die program sal sy weer geëvalueer word.

Volgens Van Pletzen is toe duidelik gemaak dié herevaluering sou die finale een wees. Sou sy weer onsuksesvol wees, moet sy bewys sy het diens verrig by ’n instelling van haar eie keuse, terwyl bykomende onderrig en opleiding verskaf moet word voordat sy weer vir registrasie as leerlingdokter kan aansoek doen.

Uundjondjo is op 14 Maart 2017 vir ’n remediërende program geregistreer en in Februarie 2018 het sy aansoek gedoen om as leerlingdokter te registreer. Sy het die vooraf registrasie geslaag, het aansoek gedoen vir registrasie en is as leerlingdokter by die Onandjokwe-staatshospitaal uitgeplaas.

Ná ’n internskap van twee jaar het Uundjondjo aansoek gedoen vir nog ’n jaar. Volgens Van Pletzen is sy egter in ’n brief in Januarie 2020 gewaarsku oor die gevolge sou sy nie binne drie jaar haar internskap voltooi nie. Sy is voorts gewaarsku dat, sou dit nodig word vir ’n verlenging ná ’n tydperk van drie jaar, dit op skrif gedoen moet word ten minste ses maande voordat die drie jaar verstryk.

Uundjondjo het haar internskap op 1 Maart 2021 voltooi en het in daardie stadium volgens Van Pletzen nie aansoek gedoen vir enige verlenging van haar internskap nie. Sy het egter in Maart en ook in Augustus ’n geskrewe versoek hiervoor gerig.

In daardie stadium het sy egter nie ’n internskap gehad nie, omdat dit reeds op 1 Maart gekanselleer is. Sy het ook net drie rotasies van die verpligte agt binne drie jaar voltooi.

Uundjondjo is in Augustus aangeraai om ’n voldoende kennisgewing van verlof tot appèl in terme van die betrokke regulasies in te dien. Ná die raad vergader het, is sy egter in Oktober ingelig haar versoek is geweier.

Haar appèl is onder meer gebaseer op haar bewering dat die raad aansoekers se name van die register vir mediese internskappe “onbehoorlik” verwyder het.

Van Pletzen maak dit in hofstukke duidelik die raad het geen magte om die internskap van ’n appellant te laat herleef nie. In haar aansoek moes Uundjondjo ook ’n redelike verduideliking kon gee vir die vertraging in die aansoek vir die verlening van haar internskap, asook enige redelike vooruitsigte van sukses.

Volgens Van Pletzen het sy deurgaans met haar betrokkenheid by die raad “geweldig gesukkel” en in haar internskap kon sy net drie rotasies uit die agt tydens die drie jaar voltooi.

“Dit was ’n tendens deur al haar pogings om geregistreer te word as ’n leerlingdokter. Laasgenoemde kan gesien word uit haar verskeie pogings om die vooraf registrasietoetse deur te kom. Haar werk is ook deurgaans as substandaard beskou, met verslae wat aandui sy het met basiese vaardighede gesukkel.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2022-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer