Bloedneus vir CoW se mediese afvalaanleg

Moet koste van aansoek dra
Die hospitaal het sy eie bestuursprogram Sterilwave SW250-reeks, vir die bestuur van mediese afval gebruik om risiko-afval van gesondheidsorg op die perseel te behandel, te steriliseer en te vernietig.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – ’n Raadsbesluit deur Stad Windhoek (CoW) met die opdrag dat alle gesondheidsorgafval nét by sy geriewe in die hoofstad verwerk mag word, is deur die hoërhof ter syde gestel.

Dié uitspraak volg nadat die Lady Pohamba Private Hospitaal (LPPH) die CoW, die omgewingskommissaris sowel as die prokureur-generaal oor dié besluit hof toe gesleep het, omdat die hospitaal daarvolgens nie mediese afval op sy eie perseel mag behandel en verwerk nie.

Die hospitaal het sy eie bestuursprogram Sterilwave SW250-reeks vir die bestuur van mediese afval gebruik om risiko-afval van gesondheidsorg (HCRW) op die perseel te behandel, te steriliseer en te vernietig.

Dit geskied in pas met LPPH se interne protokol en in volle ooreenstemming met munisipale regulasies.

’n Geakkrediteerde verwyderaar vervoer die afval na die CoW se goedgekeurde perseel waar ’n outoklaaf (sterk verseëlde houer) vir mediese afval en ’n verbrandingsoond vir die anatomiese afval gebruik word. Die hospitaal se bestuurstelsel maak gebruik van ’n versnipperingstelsel en mikrogolftegnologie om enige soort soliede, biogevaarlike afval te steriliseer in baie dun, veilige en onherkenbare munisipale afval.

Die eindproduk verminder die gewig van afval met tot 25% en die volume met tot 85%. Dit beteken die afval word veilig op die hospitaalperseel vernietig, pleks dat dit na die CoW se afvalstortingsterrein vervoer word.

’n Omgewingsklaringsertifikaat is ook aan LPPH uitgereik, terwyl die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste ’n inspeksie op LPPH se geriewe uitgevoer het om te bepaal of die bestuur aan die standaarde en spesifikasies van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) voldoen, sowel as die wet op openbare en omgewingsgesondheid. Goedkeuring vir gebruik is ook hier verkry.

Volgens ’n strategie vir gesondheidsrisiko-afval van die munisipaliteit het die CoW sentrale geriewe geskep en word die geriewe ook deur hulle bestuur.

’n Resolusie is aanvaar dat die strategiese hoof vir infrastruktuur, water en afvalbestuur die mandaat het om die vestiging van kleiner geriewe in Windhoek te voorkom.

Die CoW se verweer was dat die hospitaal se afval “gevaarlik” is en val dit binne die definisie van risiko-afval. Ook gee regulasie 35(2) nie die CoW goedkeuring om toestemming aan die hospitaal te gee vir die verwerking van dié afval nie.

Regter Esi Schimming-Chase het die resolusie van die CoW terugverwys vir moontlik hersiening. Sy het ook opdrag gegee dat die munisipaliteit die koste van LPPH se aansoek moet dra.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2022-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer