Berrie reis solo na Okavango-delta
Leef self met demensie
Ter bewusmaking en viering van Wêreld Alzheimers-maand pak 'n demensielyer vandeesweek 'n soloreis na die Okavango-delta aan.
Henriette Lamprecht
Hy wil die feit vier dat mense wat met demensie saamleef, steeds ’n vol lewe kan lei, werk kan verrig en steeds ’n emmerskoplys kan hê wat hulle kan afmerk.
“Ons het een lewe, lééf dit,” sê mnr. Berrie Holtzhausen, stigter van Alzheimer Dementia Namibia (ADN) wat self met demensie saamleef en nou ’n soloreis aanpak na die Okavango-delta om te wys ten spyte van sy diagnose, pak hy steeds die lewe voluit aan.
Sy reis val saam met die herdenking van Wêreld Alzheimers-maand en Demensie-aksieweek wat tot Sondag duur. Dit is ’n belangrike maand waarin die wêreld en sy inwoners die geleentheid het om bestekopname te doen oor tot watter mate lande inklusief is van mense wat met demensie saamleef.
“Ek wil die stigma en diskriminasie teen ons uitwis wat ons probeer isoleer en ons vermoë beperk om vir solank as moontlik ’n vol lewe te lei. Ek wil hoop bring aan al my broers en susters wat met demensie gediagnoseer is.”
Beduidende stigma word steeds met dié toestand vereenselwig, sê Berrie en dit is nie ’n onderwerp wat gemaklik bespreek word nie. Laasgenoemde skep struikelblokke vir demensielyers asook vir die wat hulle versorg.
Hy verduidelik alzheimers is net een van meer as 100 siektes wat die oorsaak is van die permanente en progressiewe agteruitgang van die brein, bekend as demensie.
Berrie en sy getroue 4x4 is vandeesweek in die delta en hy het die afgelope twee maande sy roete fyn beplan.
“Om op jou eie in die natuur te oorleef, moet jy selfversorgend wees met genoeg kos, water en petrol. Jy moet ook die moontlikhede in gedagte hou van jou voertuig wat kan breek en of in die sanderige paaie kan vassit en natuurlik om by kampplekke te slaap wat nie omhein is nie.”
Berrie het sy eie roete uitgewerk en erken as demensielyer om solo deur die delta te reis, vereis noukeurige beplanning veral met betrekking tot sy veiligheid.
“Daar is geen padtekens nie en net ’n netwerk van grondpaaie. Kampterreine is ook nie omhein nie en ’n mens moet genoeg water, diesel en kos saamvat. Jy moet natuurlik ook gedurig bewus wees van die feit dat jy in die natuur en sy diereryk is met sy eie stel reëls.”
Die afgelope tien jaar het Berrie in sy bewusmakingsreise meer as 500 000 km meestal op sy eie en meestal in afgeleë gebiede afgelê. Op dié reise sou hy dikwels vind dat mense wat aan demensie ly, teen gestigmatiseer en “op die mees onmenslike en ondenkbare maniere” teen gediskrimineer word.
Berrie erken “ek is nie ’n praktiese man nie”, maar gelukkig is sy skoonseun Dirk Uys so ’n man wat saam met sy dogter, Sufranje, hul vaardighede ingespan het om Berrie se droomreis te verwesenlik. Dit beteken sy bakkie is nou buiten ’n plek van veiligheid, ook sy slaapkamer en kombuis.
Volgens Berrie is daar drie benaderings om mense met demensie te hanteer wat nie saans wil gaan inkruip en slaap nie.
“Jy kan ons aan ons voete en enkels vir ons sogenaamde veiligheid aan beddens en rolstoele vasmaak of ons kalmeer met antipsigotiese middels of slaapmedikasie. Of jy kan seker maak ons kry genoeg oefening en son en vitamien D gedurende die dag, en ons slaap saans soos ’n klip!”
Berrie beklemtoon die keuse van versorging word bepaal deur die persoon se kennis van demensie en die “lewensgeskiedenis van ons as individue”.
“Dit sal die liefde vir ons bepaal om steeds met waardigheid behandel te word. Die gehalte van jou sorg, word gedryf deur jou waardes en die van jou organisasie.”
Hy het verwys na twee benaderings wat gebruik word om aggressie onder demensielyers te hanteer en wat medikasie insluit “om ons tot stilte te dwing as ’n verlamde en skadelose individu”. Die ander is om aggressie te sien as die globale taal van demensielyers en dit “te leer praat en verstaan deur onvervulde behoeftes in ons liggame, omgewing en verhoudings te ondersoek”.
Volgens Berrie is die mees traumatiese ervaring van ’n lewe met demensie nie die besef dat jy met ’n terminale en ongeneeslike siekte gediagnoseer is nie.
“Dit is die permanente en progressiewe verlies aan breinfunksie wat jy vir baie dekades as vanselfsprekend aanvaar het.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie