Die Windhoek Sentrale Hospitaal. FOTO ARGIEF
Die Windhoek Sentrale Hospitaal. FOTO ARGIEF

Baba verloor arm ná sy in broeikas verbrand

Brandwonde ontsteek
Grace is in 'n broeikas geplaas omdat sy buiten dat sy vroeggebore was, ook gesukkel het om asem te haal.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – ’n Baba wat vroeggebore is en in die neonatale intensiewesorgeenheid van die Windhoek Sentrale Hospitaal in ’n broeikas geplaas is, het sulke ernstige brandwonde aan haar regterarm opgedoen dat dit geamputeer moes word.

Grace Fiona Miracle is op 16 Junie 2020 in die Katutura-hospitaal gebore waarna sy na die neonatale afdeling oorgeplaas is, aangesien sy ook gesukkel het om asem te haal.

Grace se ma, me. Maria Rejoice Gowases, het in die Katutura-hospitaal agtergebly, terwyl sy daagliks die Sentrale Hospitaal besoek het om Grace te borsvoed.

Terwyl Grace onder die toesig en sorg van opgeleide personeel van die intensiewesorgeenheid was, het sy op 19 Junie brandwonde in die broeikas op haar regterarm opgedoen. Die beserings het ontsteek en Grace se arm moes gevolglik geamputeer word.

Volgens Gowases het sy emosionele en sielkundige skok en trauma ervaar met die amputasie van haar vroeggebore dogtertjie se arm. Baba Grace verloor ook haar balans as sy wil regop sit en stap, wat haar baie gefrustreerd laat. Die feit dat sy haar regterarm verloor het, maak Grace ook baie afhanklik van haar ma.

Gowases sê in hofstukke haar dogtertjie is geskend en vermink en moet nou met ’n permanente gestremdheid saamleef.

Vir emosionele skok en trauma het Gowases N$1,5 miljoen geëis, vir ongerief en lyding N$1,5 miljoen, vir die toekomstige verlies aan inkomste weens haar permanente gestremdheid N$1 miljoen, sowel as N$5 miljoen vir volgehoue lewenslange skending en verminking.

Die totale skadevergoedingseis teen die ministerie beloop N$9 miljoen. Volgens hofstukke is ’n skikking tussen Gowases en die ministerie tydens bemiddeling bereik.

Die skikkingsooreenkoms is egter nog nie deur die betrokke partye onderteken nie. Dit is ook onbekend wat die bedrag is waarop geskik is en waarvoor die ministerie sal moet pa staan.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2022-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer