Witbooi herdenk saam Sam !Khubis
Nasionale eenheid word nie gebou deur Namibiërs se verskille uit te wis nie.
“Dit word gebou deur hulle te verstaan, te respekteer en te omhels as deel van die ryk tapisserie wat Namibië uniek maak. Hoe meer ons oor mekaar leer, hoe sterker word ons as ’n volk.”
Dit was die boodskap van president Netumbo Nandi-Ndaitwah tydens die 111de herdenking van Sam !Khubis onder die tema “’n Nuwe môre op die Horison.” Sy is Vrydag deur visepresident Lucia Witbooi verteenwoordig wat gepas in tradisionele drag die heilige dag van die Rehoboth Basters bygewoon het. Die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, Sankwasa James Sankwasa was ook teenwoordig.
Onder meer was die pas ingehuldige Basterkaptein Jacky Britz en die burgemeester van Rehoboth Jacky ǂKhariseb saam met die Hardap- goewerneur Riaan McNab teenwoordig, om saam met lede van die Rehoboth Bastergemeente die hooggeplaaste gaste te verwelkom.
“Daar is plekke in wat nie bloot op ’n kaart bestaan nie. Hulle bestaan in die siel van ’n volk. Sam !Khubis is een van daardie plekke,” het die president gesê.
“Vir meer as ’n eeu het die winde wat deur hierdie landskap waai, die herinnering aan vrees, weerstand, opoffering, gebed en oorlewing gedra. Onder hierdie grond lê nie net geskiedenis nie, maar ook die pyn en moed van mans, vroue en gesinne wat in die aangesig van moontlike uitwissing gestaan het en geweier het om hul waardigheid prys te gee.”
Die president sê terwyl ons terugdink aan die plegtige gebeure van 8 Mei 1915, word ons daaraan herinner dat moed en veerkragtigheid nie net dade van weerstand was nie, maar ook uitdrukkings van ’n blywende geloof in ’n beter toekoms vir geslagte wat nog nie gebore is nie.
Sy het bevestig die geskiedenis van die Rehoboth Basters word deur veerkragtigheid in die aangesig van teëspoed gekenmerk.
“Van die stryd teen Duitse koloniale magte in 1915 tot die Rehoboth-rebellie van 1925 onder die Suid-Afrikaanse bewind, vorm julle stryd deel van Namibië se breër bevrydingsgeskiedenis en gedeelde nasionale erfenis.
Nandi-Ndaitwah meen een van die grootste sterkpunte van ons land is ons diversiteit met Namibië wat die tuiste van baie gemeenskappe, tale, tradisies en geskiedkundige ervarings is.
“Tog bly ons te dikwels vreemdelinge vir mekaar se geskiedenis en in daardie afstand kan stereotipes en misverstande maklik groei,” het sy gemaan.
Die president wil dus Namibiërs, veral jongmense, aanmoedig om herdenkings, kulturele byeenkomste en belangrike geskiedkundige gebeurtenisse in verskillende gemeenskappe en streke van ons land by te woon en daaraan deel te neem.
“Wanneer ons tyd neem om oor mekaar se pyn, stryd, oorwinnings en tradisies te leer, begin ons mekaar nie deur stereotipes sien nie, maar deur ons gedeelde menslikheid.”
Die president sê gebeurtenisse soos Sam !Khubis is nie net belangrik vir die Rehoboth Baster-gemeenskap nie, maar hulle vorm deel van die breër Namibiese storie en die gesamentlike geheue van die Namibiese nasie.
“Toe Namibië uiteindelik in 1990 onafhanklikheid verkry het, het ’n nuwe hoofstuk begin, gegrond op eenheid, gelykheid, versoening en konstitusionele demokrasie.
“Tot op hede speel die Baster-gemeenskap, soos alle Namibiese gemeenskappe, steeds ’n betekenisvolle rol in nasiebou en in die sosiale, kulturele en ekonomiese ontwikkeling van ons land.
“Ons moet hierdie stories bewaar. Nie om wonde weer oop te maak nie, maar omdat nasies wat hul pyn vergeet, die risiko loop om hul doel te vergeet.”
Die president benadruk Nambiese jongmense moet weet wat hier gebeur het.
“Hulle moet verstaan dat vryheid, waardigheid en nasionaliteit nie vrylik aan ons gegee is nie, maar deur opoffering, veerkragtigheid en onwrikbare geloof gekom het.”
In sy spreukbeurt het Sankwasa die langdurige leemte van ’n kaptein vir die Bastergemeente uitgelig,’n stuikelblok wat nou met die inhulding van Britz oorkom is, sê hy.
Hy sê die mense van Afrika het hule eie tradisies en gebruike “wat deur ons voorouers nagekom is, wat van geslag tot geslag oorgedra is tot vandag toe, wat ons steeds aan die nuwe geslag moet oordra. “Hoekom? Omdat gewoonte die sement is wat al die los sand en die los klippe bymekaar hou. Sonder ons gebruike word ons ’n rigtinglose gemeenskap,” het hy gesê.
Sankwasa beplan om teen die einde van die jaar leierskaptwis in al Namibië se tradisionele owerhede op te klaar.
Britz het benadruk dat hy die agtste kaptein van die Rehoboth Bastergemeente is, dat daar agt leiers in Rehoboth is, dat dit die agtste Mei is en dat Witbooi visepresident in die agtste administrasie van die Namibiese regering is.
“Volgens die Bybel beteken agt ’n nuwe begin,” sê hy en “ek glo dit is deel van God se plan.”
Ná onafhanklikwording is die Rehoboth Bastergemeente vir dekades nie deur die regering as ’n tradisionele owerheid erken nie. Die amptelike bevestiging gedruk in die Staatskoerant is nog nie vrygestel nie, maar Sankwasa het vroëer vandeesmaand gesê die verklaring is, “nog nie gepubliseer nie, maar goedgekeur.”


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie