’n Reis terug in die verlede
’n Nuwe baadjie vir historiese Alte Feste
Elke fase word noukeurig gedokumenteer om te verseker dat toekomstige geslagte beide 'n gerestoureerde fort en 'n gedetailleerde rekord van sy geskiedenis, konstruksie en herlewing erf.
Henriette Lamprecht
Om ’n nasionale monument te restoureer is meer as net verf, bakstene, sement en om te bou of te pleister. Dit is toegewyde speurwerk en ’n reis terug in die verlede om versteekte lae te ontdek, die oorspronklike konstruksiemetodes te verstaan en uiteindelik te besluit wat om te herstel en te bewaar.
Dit is een van die mees kenmerkende landmerke op Windhoek se horison met die fondasie wat 135 jaar gelê is vir wat eers as ’n militêre fort, toe ’n skool en later ’n museum sou dien.
Die Alte Feste, Windhoek se oudste gebou, is stadig maar seker danksy intensiewe en omvattende restourasie- en herstelwerk besig om ’n nuwe baadjie aan te trek. Wanneer dit voltooi is, sal die gebou wat in 1890 deur die Duitse koloniale administrasie as ’n militêre fort gevestig en deur Curt von Francois ontwerp is, die spilpunt van herinnering, kuns, kultuur en erfenis wees. Buiten as hoofkwartiere vir die Duitse Schutztruppe en barrakke, insluitend behuising vir vroue en kinders tydens die Herero-oorlog van 1904, is dit ná die Eerste Wêreldoorlog deur Suid-Afrikaanse troepe gebruik voor dit deur Windhoek Hoërskool as koshuis gebruik is. In 1957 word die fort as ’n nasionale monument verklaar en in 1962 word dit ’n museum, maar is sedert 2014 gesluit.
In sy nuwe baadjie gaan die Alte Feste onder meer die nasionale Volksmoordmuseum, sowel as die Namibian Craft Centre huisves. Laasgenoemde lei die nuwe gesig van die fort in vennootskap met die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport and kultuur wat nie net Namibië se geskiedenis sal erken nie, maar ook nuwe geleenthede skep vir Namibiese talent en die betrokkenheid van die gemeenskap.
Sedert die ondertekening van ’n Memorandum van Verstandhouding (MOU), is ’n bestuurskomitee aangewys wat uit verteenwoordigers van die ministerie, Stad Windhoek, projekvennote en ook erfeniskenners bestaan.
’n Geotegniese en strukturele studie laat in 2024 het beide sterk punte en uitdagings aangedui. Die fort rus direk op ’n soliede rotsbodem, wat merkwaardige stabiliteit bied. Dekades se reën, swak dreinering en termiete het egter die onderste mure uitgekalf en gapings tussen die klippe gelaat. Die sandsteen het natuurlik verweer en krake het verskyn, veral in die noordoostelike toring.
Die Alte Feste se binnehof is egter steeds stabiel en gereed om ’n nuwe dak en museum-installasies te huisves wanneer ’n nuwe stormwaterstelsel in plek is. Om die gebou te beskerm, is plantegroei om die mure skoongemaak en met die beheer van termiete begin. ’n Nuwe stormwaterstelsel gaan help om water van die fort se fondasies weg te hou. Die noordoostelike toring is reeds gestabiliseer met versterkte betonstutte, en vlekvrye staalankers versterk gekraakte boonste mure. Praktiese herstelwerk het in Januarie vanjaar in die westelike vleuel begin. In Julie het inspeksies deur die Nama Tradisionele Leiersvereniging, die Ovaherero Volksmoord-stigting en die Nasionale Erfenisraad die omvang van Fase 1 bevestig wat fokus op die westelike fasade, veranda en twee torings. ’n Verslag is ook voorberei oor Fase 1 wat aan die drie partye voorgelê sal word.
Vergaderings met tradisionele owerhede en verteenwoordigers van die Duitse gemeenskap is aan die gang en kenners is geïdentifiseer om by te dra tot die ontwerp en samestelling van die Volksmoordmuseum.
Die projekspan het moderne materiale verwyder en tradisionele kalkmengsel is gekies vir die westelike fasade, sowel as oorspronklike kleure wat gebruik is om ’n beskadigde kaai te herbou. Krake is gestabiliseer met staalstawe, terwyl die dakbalke en plate vervang is met ’n moderne stelsel wat die oorspronklike ontwerp weerspieël. Dit versterk die struktuur, beskerm historiese kenmerke en verseker dat die gebou vir volgende geslagte steeds behoue sal bly. Aangesien die projek ook ’n verkenningstog is, word verdere ontdekkings verwag. Elke fase word noukeurig gedokumenteer om te verseker dat toekomstige geslagte beide ’n gerestoureerde fort en ’n gedetailleerde rekord van sy geskiedenis, konstruksie en herlewing erf. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie