Meer as pos
’n Klipgebou uit die Duitse koloniale era staan steeds as herinnering aan die tyd toe pos, telegraaf en spoorlyn die Suide met die buitewêreld verbind het.
In die hart van Keetmanshoop staan die ou poskantoor, in 1910 voltooi en vandag ’n historiese baken.
UIT SY NATE
Toe die spoorlyn Keetmanshoop in 1908 bereik, het die dorp vinnig tot ’n belangrike spoorweg-, militêre en administratiewe sentrum ontwikkel. Die bestaande poskantoor was te klein en die Duitse koloniale regering het planne vir ’n nuwe gebou laat opstel.
Die argitek was Gottlieb Redecker, amptelike boumeester van die Duitse koloniale regering se departement werke. Seebach & Bach het die gebou opgerig. Dit is op 1 Augustus 1910 in gebruik geneem.
Die gebou is hoofsaaklik van graniet gebou, met hout en sinkplate uit Kaapstad en deure en vensters uit Duitsland.
ANTENNA OP DIE DAK
Die poskantoor het ’n ruim saal, twee telegraafkantore, ’n stoorkamer, die posmeester se kantoor en woonkwartiere gehad. ’n Telegraafantenne het oorspronklik bo-op die toring gestaan.
Die spitsgewel, toring en trapgewels gee die gebou sy kenmerkende Duitse koloniale karakter.
Die ou poskantoor is op 2 Februarie 1987 tot nasionale monument verklaar.
’N BRAND EN ’N RAMP
Die Keetmanshoop-stasiegebou is meer as een keer verbou. Ná die diamantstormloop was groter geriewe nodig; bouwerk het in 1913 en 1914 plaasgevind. ’n Brand, klaarblyklik in 1919, het verdere verbouing veroorsaak. Die 1927-1928 weergawe het gewels bygekry.
Op 25 Maart 1977 het ’n treinramp digby plaasgevind toe ’n wegholvragtrein met ’n troepetrein gebots het. Sewe soldate het gesterf en 71 is beseer.
BRONNE:
National Monuments in Namibia, Dr. Andreas Vogt (2004)
Klaus Dierks, aanlyngeskiedenis
Willem Kotze-versameling
WETENSWAARDIG
Ander erfenis op Keetmanshoop
Die karakoelwagter
Rynse Sendingkerk
Oorlogsgedenknaalde
Kokerboomwoud 14 km NO
Mukorob 240 km N


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie