Amerika sal val, sê oudadmiraal

Indië die ‘slimste speler’ op wêreldtoneel
Soos alle wêreldmoondhede sál Amerika tot ’n val kom. Hierdie voorspelling is nie ondeurdag nie, maar net ’n openingsalvo, volgens ’n afgetrede skout-admiraal.
Pierre Massyn

Joe Sinovich is ’n deurwinterde seeman. Dié afgetrede skout-admiraal het op 11 April sy diepgaande kennis van wêreldpolitiek as gasspreker by die eerste gesamentlike vergadering van die Agulhas Erfenis- en die Bewaringsvereniging gedeel ná hul onlangse samesmelting. 

Met sy uitheemse van – Sinovich is Kroasies - en al, is hy ’n direkte afstammeling van die Voortrekkerleier Piet Retief, wie se dogter Deborah met Marthinus Wessel Pretorius getrou het. Sy seun was Henning Petrus Nicholaas Pretorius – die stigter van die Staatartillerie van die Zuid-Afrikaanse Republiek. Die jong Sinovich, oorspronklik van Knysna, sluit hom in die vroeë tagtigerjare by die vloot aan en kerf vir homself ’n ongeëwenaarde loopbaan uit.

Die onderwerp van Sinovich se praatjie in die L’Agulhas Gemeenskapsaal in April was, “Die Wêreld in Wanorde – Quo Vadis”. Die eerste vraag wat opduik is: Wat is ’n

wêreldorde? Per definisie is dit per se die onsigbare argitektuur van globale betrekkinge.

Sinovich het op sy dag aan die wêreldbekende militêre akademie by die US Naval War College in Newport, Rhode Island, gestudeer waar hy keuringsprosesse moes evalueer om te bepaal watter individue oor voldoende vermoëns beskik het om as ’n generaal of admiraal binne die gedugte Amerikaanse stelsel te kwalifiseer.

Hy is derhalwe uitstekend toegerus om toekomstige scenario’s te skep. Die spreker is eerstens ’n militaris wat in oorlogvoering op see gespesialiseer het. Maar hy het ook as Suid-Afrika se militere attaché in Duitsland en Tsjeggië gedien. Dié ervaring plaas hom in die uitsonderlike posisie om gesaghebbend oor wêreldgebeure te praat soos dit tans ontvou.

Hy projekteer ’n dramatiese aktuele teater soos die Iranese oorlog teen die agtergrond van wêreldgeskiedenis, soos dit byvoorbeeld in die dae van Athene en Sparta in die antieke Griekeland afgespeel het. 

Hul kulturele verskille is welbekend. Net so word mag teen geregtigheid en moraliteit opgestel. Mag kan gebaseer word op militêre of ekonomiese gravitas.

In sy praatjie plaas Sinovich twee hoofspelers kern op die internasionale verhoog: China en die VSA (Amerika). Oor China onthul hy dat dit onwaar is dat die Chinese ongelukkig is oor hul huidige regering. 

“Hulle verkies eintlik ’n outoritêre regime,” sê Sinovich.

Die admiraal weerhou hom nie van kritiek teenoor die huidige Amerikaanse administrasie nie. 

“’n Demokrasie waarborg nie noodwendig moraliteit nie. [Donald] Trump sê hy wil die seestraat van Hormoes oopmaak, maar die straat wás oop voor hy Iran aangeval het!”

Dit het verreikende gevolge internasionaal gehad, insluitend vir miljoene Suid-Afrikaners.

“Nou die dag sê ’n boer vir my hy moet R660 miljoen meer aan brandstof bestee om sy produkte te vervoer as voor die oorlog,” verduidelik Sinovich.

Hierdie oorlog is nie net tussen Amerika en Iran nie, maar tussen ’n Christenland en ’n Moslemstaat.

En hieroor stel hy dit onomwonde: “Jy kan nie die Moslemwêreld aan Christelike waardes meet nie.” 

Hy trek voorts ’n parallel tussen Suid-Afrika voor 1994 en Iran.

“Suid-Afrika was geïsoleerd, maar het nietemin ’n

gedugte wapenarsenaal opgebou met tegnologie soos die G-5-kanon en die Rooivalk-aanvalshelikopter. 

“Iran vervaardig weer hommeltuie op groot skaal en is in staat om sy aartsvyand, Israel met lang- en middelafstandmissiele te bestook, ondanks Donald Trump wat spog dat hy die Iranese vloot en lugmag uitgewis het,” sê Sinovich. 

Iran slaag ook daarin om die Straat van Hormoes met seemyne en ander wapens in ’n knyptang te hou – al

druis dit teen internasionale maritieme-wetgewing in. 

Dit is juis oorlogvoering oor lang afstande met hommeltuie en bomme wat oorlog onpersoonlik en verontmenslik maak.

Een van die hoekstene van Sinovich se betoog is dat magsbehoud oor die eeue heen gewissel het.

“Daar was nog nooit ’n supermoondheid wat oorleef het nie.” 

Die supermoondhede met hul strategie van besetting en oorheersing het die een na die ander tot ’n val gekom, verduidelik Sinovich – van die Babeloniërs tot die Romeine. Alexander en die Helleniste. Brittanje en Frankryk. Laasgenoemde is egter steeds ’n kernmoondheid. Die Nederlanders met hul magtige handelsvloot wat deur die Vereenigde Oostindische Compagnie die eerste aandelebeurs gevestig het.

Net so sal Amerika tot ’n val kom, sê Sinovich, maar hy glo nie dit sal in sy leeftyd gebeur nie.

“Militêr gesproke kan niemand tans by Amerika kers vashou nie en met die hulp van sy bondgenote – met of sonder direkte hulp van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) – kan Amerika sy status as ’n wêreldsupermoondheid vir baie langer handhaaf. 

“Hierin speel die oorheersing van die dollar-geldeenheid ’n kritieke rol,” verduidelik hy. ’n Staat soos Kalifornië het byvoorbeeld steeds as entiteit die sewende grootste ekonomie op aarde.

Oor die huidige toestand van Suid-Afrika se weermag, erken hy dat korrupsie ’n groot rol in die aftakeling daarvan gespeel het. 

“Maar veranderende marktoestande en skommelinge in die dinamika wat vraag en aanbod dryf, het ook ’n rol gespeel,” sê Sinovich.

In terme van gebiedswaters, het Suid-Afrika die derde langste soek-en-reddingskuslyn ter wêreld ná die VSA en Australië.

“Ons het enorme uitdagings op hierdie gebied,” maan hy.

Sy perspektief oor die Midde-Ooste is dat dit ’n kookpot is waar olie, leerstellings en ideologie beleidsrigtings bepaal en geweld telkens na die oppervlak borrel.

Die president van die VSA het nie die kongres se goedkeuring nodig om ’n knoppie te druk om ’n kernaanval te ontketen nie.

In Jemen is die Hoethi’s ’n X-faktor en kan hulle moontlik toegang tot die Rooi See in die Golf van Aden blokkeer, wat verdere ontwrigting op wêreldmarkte kan veroorsaak.

Amerika en Israel se verhouding is verweef en word grootliks bepaal deur die invloedryke Joodse “lobby” in Amerika, waar die volgende leier ná Trump straks een van drie sal wees: Marco Rubio, JD Vance of Gavin Newsom.

Israel wil alle moontlike munt uit Trump se presidentskap slaan terwyl hy nog aan bewind is.

Israel onder die leierskap van Benjamin Netanyahu wil sy grondgebied uitbrei deur die Wesoewer ongekwalifiseerd en onbetwis syne te maak.

Terselfdertyd wil hy Hezbollah, gerugsteun deur Iran, in suid-Libanon uitskakel, waarskynlik deur ’n “veilige” bufferstrook noord van Metullah te skep op die grens wat die skrywer in 1987 besoek het.


Argentinië, aangevuur deur sy president Javier Milei, benut die huidige wêreldchaos om weer sy rug te begin styfmaak oor die betwiste Falklands of Las Malvinas, Daar is altyd ’n wisselwerking tussen politiek, akademie en die militêre milieu, maan Sinovich. 

’n Plaaslike voorbeeld is die verhouding tussen die Stellenbosch Universiteit, met sy bepaalde uitgangspunt soos vergestalt deur die fakulteit van militêre wetenskap, en die Suid-Afrikaanse Militêre Akademie op Saldanha.

Ware staatsmanne is dun op hierdie planeet gesaai. Maar vir Joe Sinovich is daar een wat kop en skouers bo sy eweknieë uitstaan en dit is Indië se Narenda Modi. 

“Onder sy leierskap het Indië homself as die slimste speler op die wêreldverhoog geposisioneer,” sê Sinovich. 


*Pierre Massyn is ’n oud-TV-joernalis, -bemanningslid van die SAS President Kruger en skrywer. Hy het noue bande in die Midde-Ooste, Griekeland en Frankryk.


VOETNOTE

Voetnoot: 1: ’n Volle laag is wanneer ’n skip al sy kannonne hetsy aan die bak- of stuurboordkant gelyktydig afvuur. “Appeltjies”, soos aan die skrywer verduidelik is deur die historikus wyle dr. Dan Sleigh kort voor sy dood, is kanonkoeëels. Die omskrywing “Appeljies van Oranje” figureer in die Hollandse volksliedjie “Piet Hein”.


Voetnoot 2: Radio Sonder Grense (RSG) berig in sy nuusbulletin op 12 April dat Vance aangekondig het dat samesprekings tussen sy land en Iran met bemiddeling van Pakistan ná 21 uur op ’n dooiepunt uitgeloop het.


Voetnoot 3: Massyn het eerstehandse ondervinding van die anti-Britse sentiment oor “Las Malvinas” opgedoen toe hy Suid-Amerika in 1986-’87 oorkruis het en die Argentynse stad Ushuaia in Tierra del Fuego in 2023 besoek het met sy terugkeer van Kaap Hoorn. 


[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer