'Ystervrou' Marthie Voigt sterf
Sy het diep spore in die geskiedenis van Angola en die destydse Suidwes-Afrika getrap en as tolk en verpleegster honderde gewondes versorg en geboortes onder gevaarlike omstandighede versorger. Ystervrou en legende, en skrywer van ‘n Leeftyd later: Herinneringe aan Angola, tannie Marthie Voigt is op 26 Januarie in die ouderdom van 94 jaar oorlede.
Gedoop Martha Caterina Jacoba Prinsloo is sy as die vierde van ses kinders op 18 Oktober 1931 op Nuchas in die Grootfontein-distrik gebore. Later sou sy saam met haar gesin na Angola verhuis waar sy in die wye en ongetemde vlaktes van die land groot word. Hier het die Prinsloo-gesin baie rond agter goeie weiding aangetrek. Tannie Marthie se lewe saam met haar gesin in die ongerepte Angola sorg ook vir groot hartseer toe haar sussie op 19 aan malaria sterf.
Op 18 Augustus 1954 is sy op Monguavolo met Carl-Wilhelm Voigt getroud en vestig egpaar Voigt hulle op haar skoonouers se koffieplaas waar hul vier seuns se eerste spore ook lê. Hulle is sielsgelukkig, totdat onheil in Angola begin broei en die gesin noodgedwonge die plaas net so moes los om uit te wyk na die destydse Suidwes-Afrika. As tolk en verpleegster help tannie Marthie honderde vlugtelinge uit Angola, versorg gewondes en hanteer geboortes onder gevaarlike omstandighede. In 2017 verskyn tannie Marthie se boek ‘n Leeftyd later: Herinneringe aan Angola op die rype ouderdom van 85 jaar by Protea Boekhuis. Hierin pen sy haar persoonlike herinneringe neer aan ‘n baie spesiale tyd in haar lewe. Dit word erken as ‘n “wonderlike lewensverhaal uit die pen van ‘n sterk, onafhanklike vrou gebrei deur die ongetemde lewe in die wildernis” en ‘n “aangrypende boek oor hoe ‘n mens met die regte fondasie deur die swaar kom”.
Op ‘n Facebookblad vir Dorslandtrekkers skryf Richard van der Westhuizen van tannie Martie se liefde vir haar kerk en haar mense wat legendaries was. “Sy het hard gewerk en het soveel pragtige staaltjies vertel van haar tyd as kind”, terwyl Johan van Staden haar as ‘n ystervrou beskryf wat die spore van ‘n legende agter laat. - [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie