Xallamo op pad na Zürich
Vir die 29-jarige Zacharia Gariseb, beter bekend as Xallamo, was dans nog nooit net ’n stokperdjie nie.
Dis ’n roeping wat gestalte gekry het in die strate van sy tuisdorp, Tsumeb. Daar het sy liefde vir beweging en rolprente oor gevegskuns ’n droom aangewakker wat hom uiteindelik na die wêreldverhoog sou neem.
Geïnspireer deur Jackie Chan se klassieke kung fu-rolprente, soos Snake in the Eagle’s Shadow, het Zacharia sy eie dansstyl begin ontwikkel, ondanks die beperkte geleenthede in sy omgewing. Hy het geoefen waar hy ook al kon en was vasbeslote om sy vaardighede te verbeter, ondanks die kritiek en twyfel waarmee hy te doen gekry het. Sy deursettingsvermoë het nou vrugte afgewerp.
Zacharia is as wenner van Namibië se eerste Red Bull Dance Your Style-kompetisie aangewys. Dié oorwinning gee hom die geleentheid om Namibië by die wêreldfinaal in Zürich te verteenwoordig.
Vir hom beteken die oorwinning veel meer as net ’n titel. Dit is ook ’n antwoord aan diegene wat vroeër sy droom geringgeskat het.
Zacharia vertel dat mense hom ’n “mal mens” genoem en gesê het hy moet eerder ’n behoorlike werk kry in plaas daarvan om sy tyd aan dans te bestee.
Vandag moedig sommige van daardie selfde mense hom aan.
“Dieselfde mense wat gesê het ek beteken niks nie, moedig my vandag aan om te dans,” sê hy.
“Ek het ’n punt bewys: my talent sou nie ongesiens bly nie.”
Zacharia beskou sy sukses as bevestiging van ’n gawe wat God hom gegee het. Hy is ook dankbaar teenoor die ander dansers wat hom uitgedaag het om sy grense te verskuif en die beste van homself te gee.
Hy het ’n boodskap vir jongmense wat hul talente wil uitleef, selfs wanneer ander nie hul drome verstaan nie. “Liewe kind, jy weet waarvandaan jy kom en jy weet wat jy wil doen,” sê Zacharia.
Terwyl hy vir die wêreldfinaal voorberei, groei die ondersteuning vir hom tuis.
Die plaaslike straatstyl-handelsmerk BC Namibia het die kampioen deur sy Wear Our Own-inisiatief ondersteun deur vir hom pasgemaakte T-hemde en ’n kappietrui te gee om tydens sy reis na Switserland te dra.
Vir Zacharia gaan die reis oor veel meer as persoonlike sukses. Dit is ’n geleentheid om sy loopbaan verder te ontwikkel en aan ’n internasionale gehoor te wys waar hy vandaan kom en wat Namibië kan bied.
“Ek wil hê mense moet die grond van Namibië deur my dansstyl, Amapanzola, sien,” sê hy.
Deur sy kenmerkende dansstyl en kulturele wortels buite Namibië se grense te neem, hoop Zacharia om die wêreld ’n voorsmakie te gee van die kreatiwiteit, kultuur en energie van sy tuisland.
Van oefensessies op die strate van Tsumeb tot ’n plek op die internasionale verhoog: sy verhaal wys dat talent selfs in omstandighede met beperkte geleenthede kan floreer. Dit herinner jongmense ook daaraan dat om in jouself te glo, ’n belangrike eerste stap is om ’n droom in ’n werklikheid te omskep.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie