u0027n Kerk wat groei. Foto verskaf
u0027n Kerk wat groei. Foto verskaf

Waar die lig verder dra

’n Kerk wat groei
In afgeleë San-gemeenskappe groei die NG Kerk vinnig – en saam daarmee nuwe leiers, geleenthede en hoop.
Dani Booysen

Elke Sondag kom duisende San-lidmate oraloor Namibië in klein gemeentes bymekaar. 

Agter die groei lê ’n verhaal van geloof, volharding en mense wat bereid is om ver te gaan om die boodskap verder te dra.

Volgens ds. Andries Gous van Degnos – Diens en Getuienis: Noordoostelike Streek – het San-NG-gemeentes na raming tussen 8 000 en 12 000 lidmate. Sowat 140 kleiner gemeentes bring elke Sondag minstens 4 500 mense bymekaar.

In Wes-Zambezi is die groei besonder sterk, met 23 predikante in opleiding. Op Henta naby Grootfontein het sowat 400 dooplidmate die afgelope drie jaar bygekom.

Degnos bedien vyf San-groepe, van Tsumkwe tot die Zambezi, Mangetti Duin en Tsintsabis. Die tale verskil só dat Afrikaans dikwels die gemeenskaplike taal is.


ALTYD NOG TYD

Die beeld van lig loop diep deur Gous se verhaal. 

Atrebe en Totti Tsam, van die eerste Hai//om-bekeerlinge, het destyds gepraat van die “wonderlike lig” wat vir hul volk aangegaan het. Atrebe het later sy kerkraad gewaarsku om nooit dié lig te laat uitdoof nie.

Gous se eie pad na die bediening het in 2014 begin toe hy saam met Karel Ganseb Bybelstudie onder die Hai//om-mense gedoen het. 

Karel het hom soms vier keer per dag laat preek: “Daar is nog tyd. Daar is meer mense wat nie die goeie boodskap gehoor het nie.”

Vandag het Degnos 65 teologiestudente op Grootfontein. Die opleiding kan tot tien jaar duur, met die doel om uiteindelik ’n opgeleide geestelike leier in elke San-gemeente te hê.


GELOOF WAT HANDE KRY

Die werk stop egter nie by die kerkdeur nie. 

Degnos het 16 skole vir vroeë kinderontwikkeling waar sowat 450 kinders daagliks ’n bord kos ontvang. 

Daar is ook ondersteuning vir skoolkinders, landbouprojekte, jeugwerk en ondernemings om gemeenskappe meer selfstandig te maak.

Gous glo uiteindelik moet Degnos homself uit die werk uit werk. Die doel is gemeentes wat hul eie leiers kan ontwikkel, hulself finansier en die evangelie verder dra.

Want wanneer die lig eers aangegaan het, moet dit verder gedra word.


Ds. Andries Gous, Degnos

081 361 2480

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer