Voorslagvroue

NVV wys hul Vonkelvrou, Persoonlikheid van die Jaar aan
Spreuke in die Bybel beskryf 'n deugsame vrou se waarde as ver bo korale en Namibië spog met handevol van hulle.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Dat Namibië ontelbare staatmaker vroue het, is ’n feit wat niemand kan betwis nie. Van sakevrou tot huisvrou tot gebedsvrou en dienvrou, spog die land met ’n vroulike rykdom. Die Namibiese Vrouevereniging (NVV), ’n organisasie wat al vir meer as ver verby ses dekades vroue in Namibië bevorder en verryk, het onlangs erkenning gegee en hul spesiale vroue vereer.

Tydens die NVV se 67ste kongres wat in September plaasgevind het, is die land se voorste sjef- en kospersoonlikheid Sanet Prinsloo erken as die NVV se Persoonlikheid van die Jaar, terwyl Henriëtte le Grange wat onder meer aan die stuur van Droogtehulp Namibië staan met die Vonkelvrou 2025-toekenning vir haar onmeetbare bydrae tot die land en haar mense vereer. Die toekenningsaand was omtrent ’n makietie en is ook gebruik om Afrikaans se 100 jaar as amptelike landstaal te vier. Die tema vir die makietie was gepas ‘boere sjiek.

As daar ’n vrou is wat erken moet word as die land se persoonlikheid, is dit Sanet Prinsloo, vir so baie Namibië se ‘boereworskoningin’! In Sanet, die baie betrokke ma van drie seuns (én al hul vriende en aanhangsels!) se omgee- en ‘dien’hart is daar altyd plek vir nog, om van haar huis en haar kombuis nie eers te praat nie! Buiten haar betrokkenheid by alles wat kosverwant is, is sy ook onder meer by die FNB Woordfees betrokke, verskeie kompetisies en gemeenskapsprojekte en is sy ’n formidabele besigheidsvrou. Gebore en getoë in Windhoek het Sanet reeds vroeg geleer harde werk en passie is die beste bestanddele vir ’n resep vir sukses. Met ’n BSc in Huiswetenskappe agter haar naam, pak Sanet haar rugsak en gaan verken die wêreld waar sy in Londen kook vir name waarvan jy in Die Huisgenoot lees - Andrew Lloyd Webber, David Bowie, Robbie Williams en selfs die wêreld se Prinses van Harte, wyle Prinses Diana. Met haar terugkeer na haar geboorteland vind sy weer ook hier haar tuiste in die kombuis waar sy danksy haar kookvernuf en betrokkenheid ’n loopbaan bou wat ver oor die Namibiese grense strek. Buiten vir alombekendheid as die boereworsdoyenne by die Shoprite & Checkers Champion Boereworskompetisie, is sy beoordelaar by die Namibiese Landbou-unie (NLU) se gewilde jaarlikse NLU Agribraai en ambassadeur vir Snappy Chef. Sanet het al as beoordelaar opgetree by die “Game of Chefs” tydens die “AfricaFood”-skou in Kaapstad, en is sy president van die Namibiese Sjefsvereniging en raadslid van die Wêreldvereniging van Sjefsgenootskappe (WACS) waar sy haar land se kulinêre vlag hoog laat wapper, maar ook help om geleenthede vir plaaslike talent te skep.

“Sanet Prinsloo is ’n vrou wat besig is om ’n nalatenskap te bou – een van harde werk, vriendelikheid, en ’n diep liefde vir mense en kos. Haar entoesiasme is aansteeklik, haar kennis is inspirerend, en haar bydrae strek ver buite Namibië se grense,” sê Hermien van den Berg, president van die NVV. Buiten vir Henriëtte la Grange van Droogtehulp Namibië, het die NVV ook in hul e-Vonkel-nuusbrief erkenning gegee aan die vereniging se Kunstenaar van die Jaar, Lanie Joubert. Lanie vertel haar liefde vir kreatief wees was nog altyd deel van haar en as kind kon sy ure inkleur en aan die skoot van ouma’s leer sy van hekel, brei en naaldwerk. Sy is ma van drie, maar dit sou eers met haar tweede huwelik wees wat sy die geleentheid kon kry om skilder as passie te ontgin en uit te leef. In 2008 skop haar kunsreis af met olieverfklasse by Jenny Steenkamp, eienaar van Jenny’s Place wat die volgende jaar Kanada toe emigreer. Die nuwe eienaar bied haar die geleentheid om kunsklasse aan te bied wat sy vir drie jaar doen totdat haar man ’n plaas buite Okahandja koop en die gesin soontoe verhuis. Vir ’n wyle bêre sy eers haar buisies verf, skilderdoek en kwaste en fokus op huisbou, boer en haar kinders deur hoërskool kry. Dit is ook hier op die plaas waar sy haar liefde vir beeste ontwikkel.

In 2015 begin sy kunsklasse gee by Crafters Delight op Okahandja waar sy die “dierbaarste vriendinne ontmoet met wie ek nou nog skilder - oor die foon natuurlik!”

Lanie erken tyd vir skilder is daar nie baie en tans doen sy kommissiewerk. Sy hou daarvan om mense, diere en veral nguni-beeste te skilder, maar haar hartsbegeerte is om elke dag voor haar esel te kan sit.

“Om kunswerke tot eer van ons Koning Jesus te skilder. Ek wil met my skildery die wêreld wys van God se Liefde en Genade. Ek glo net soos met alles in die lewe sal die seisoen ook eendag vir my aanbreek.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer