Verwydering van private grond 'barbaars'

Leandrea mouers
Sowat 50 inwoners van Walvisbaai het hul uitsetting van private grond as “barbaars” beskryf. Die Swapo-jeugliga het Vrydag ‘n petisie namens die geraakte inwoners aan die Erongo-goewerneur oorhandig waarin hulle die uitsetting as onmenslike optrede beskryf het wat “mede-Namibiërs uitgelewer het aan die ongenaakbare koue van Walvisbaai”

Onder die groep is swanger vroue sowel as kinders wat in die skool is. Die groep erken die grond is in private besit en dat die eienaar volle reg tot die eiendom het, maar dat hy ‘n meer genaakbare benadering moes gekies het.

“Hy moes ‘n ligter besluit oorweeg het, eerder as om mense se huise te vernietig. Sedert die kwessie by die kiesafdeling se politieke leierskap aangemeld is wat deeglik bewus is van die uitsettingsbevel, sal dit goed wees as beamptes van die streeks- en plaaslike owerhede die gemeenskap kan onderrig oor die gevolge daarvan om op ongemagtigde eiendom te bly,” lui die petisie

Dis is deur goewerneur Nathalia Goagoses ontvang wat beklemtoon het die kwessie moenie verpolitiseer word nie. Dit volg nadat Walvisbaai se burgemeester weggestap van die oorhandiging en gesê het “ek antwoord nie aan Swapo nie”.

Volgens Goagoses wek die kwessie kommer oor die skending van menseregte en mag die manier waarop die uitsetting uitgevoer is, selfs wetsoortredings behels. Sy het beklemtoon geen blaamspeletjies sal gespeel word nie en dat sy die geraakte inwoners oor die pad vorentoe sal inlig.

“Ons gaan nie die kwessie verpolitiseer nie, dis ‘n menseregtekwessie. Julle gaan julleself by die munisipaliteit registreer. Ek erken dat die kwessie anders en op ‘n meer menslike manier hanteer kon word,” het Goagoses gesê.

Sy het verwys na sommige van die inwoners wat huise besit wat hulle uitverhuur, terwyl voortgaan om in informele strukture te bly.

“Hoe kan jy private grond gryp wanneer jy reeds ‘n huis het? Daar is mense wat regtig huise nodig het.”

Die raadslid van die Walvisbaai-landelike kiesafdeling

Florian Donatus het op sy beurt gesê daar is niks wat die streeksraad oor grondkwessies kan doen nie.

“Ons het nie die mandaat nie. Dit is nou vir munisipaliateit om te sien wat hulle kan doen om hierdie mense te help. Die kwessie van grond is ‘n probleem en ons moet verstaan ons kan nie net aanhou fokus op grondgrypers nie. Dit is mense wat al baie lank agter in mense se erwe bly. ‘n Mens kan al vir 20 jaar in ‘n sinkhuis agter ‘n broer, ma, oom of selfs ‘n vreemdeling se erf bly en hulle wag geduldig vir grond. Dit is nou vir die munisipaliteit om iets te doen,” het Donatus gesê. Die uitgesette inwoners beweer hulle vra sedert 2020 vir die munisipaliteit vir hulp.- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer