Vele hande maak ligte werk

Internasionale vrywilligers spring in
Die liefdadigheidsinisiatief het ingegryp om die huise van kwesbares te verbeter.
Augetto Graig

Musiek in die agtergrond het ’n baie besige tyd van harde handearbied vir 18 jong vrywilligers van Europa en plaaslike medewerkers van Groot Aub en die buitewyke van Windhoek gesellig gemaak. 

Onder leiding van Monica Imanga, direkteur van Home of Good Hope, ’n liefdadigheidsinisiatief, het hulle daklekkasies by vier sinkhuise van kwesbare huishoudings getakel. 

“Ons het drie van hulle van die grond af opgebou,” sê Imanga.

Willem Gariseb, raadslid van die Windhoek- landelike kiesafdeling en stadsraadslid van Windhoek, Demetreo Beukes, het Saterdag met inwoners oor die ingryping in ’n memorandum gekommunikeer.

“Imanga en haar toegewyde span het die inisiatief geneem om die dakke van kwesbare huishoudings te herstel en sodoende veiliger en waardiger lewensomstandighede vir die geraakte gesinne te verseker,” lui die memo.

“Ons wil ook erken dat dit nie die eerste keer is dat Home of Good Hope ons gemeenskap ondersteun nie. In die verlede het hulle voedselpakkies en klere aan ons mees kwesbare inwoners by Groot-Aub en omliggende gebiede versprei. Hul volgehoue toewyding om ons gemeenskap op te hef, is werklik prysenswaardig,” het die raadslede geskryf.

Die besoekende vrywilligers het Saterdag na Duitsland teruggevlieg, aan die einde van ’n toer wat deur Hope of Hope se Nederlandse stigting georganiseer is. 

Verlede jaar het 32 vrywilligers Namibië op hierdie manier besoek. Imanga verwag nog ’n aankoms van vrywilligers in Augustus vanjaar. Sy hoop reeds dat meer begunstigdes vroegtydig geïdentifiseer sal word.

Vir haar is die werk persoonlik.

“Ek het begin toe my dogter gesterf het. Sy was 16 en het aan MIV/vigs gesterf.”

Imanga vertel dat sy haar werk as ’n gastehuisbestuurder bedank het en met Beauchorine Maria Imanga se heengaan het haar ma met MIV-positiewe kinders begin werk. 

“Ons het begin met 45 kinders en vandag voer ons daagliks 1 200. Ons help mammas so jonk soos 14, voorsien opleiding, ’n kleuterskool en voorskoolse sorg. Ons sorg vir die babas en dra by om die mammas te help om terug skool toe te gaan,” vertel sy. 

Oor die jare heen het Home of Hope sowat 40 sinkhuise opgerig, “maar my eerste prioriteit bly die kinders,” benadruk Imanga.

Die sooispitseremonie vir ’n nuwe sentrum, geleë in Monicastraat 87 in die Goreangab-nedersetting het in Oktober verlede jaar plaasgevind. 

Dit sluit ’n groot eetsaal, ’n volledig toegeruste kombuis en voedselbergingsgeriewe, klaskamers vir voorskoolse onderrig en huiswerkbystand in, asook akkommodasie vir tienermoeders en hul kinders wat in gevaar verkeer.

Die Nederlandse stigting Home of Good Hope word deur borge van Swede, Duitsland en Namibië ondersteun. 

Besoek gerus hul webwerf by homeofgoodhope.nl/en/ vir meer inligting. Imanga verwelkom enige ondersteuning en kan by +264 81 230 2070 gekontak word.

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-04-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer