Faith Nghipunya, uitvoerende hoof van Faithu2019s Creations FOTO FAITH NGHIPUNYA/FACEBOOK
Faith Nghipunya, uitvoerende hoof van Faithu2019s Creations FOTO FAITH NGHIPUNYA/FACEBOOK

Van skaamte na selfvertroue

Annemarie du Toit

Faith Nghipunya se hoofdoel is om menstruasie-armoede in Namibië uit te wis en jong meisies in die klaskamer te hou deur haar inisiatief “I’m just a girl – Keep the girl child in school”.

Nghipunya, die uitvoerende hoof van Faith’s Creations, het 'n dringende gaping in die uitdaging van menstruasiearmoede in die land gesien. Terwyl baie organisasies op hoërskoolleerlinge fokus, het sy opgemerk dat die kwesbaarste oorgang tussen die ouderdomme van 11 en 15 plaasvind.

"Op hierdie ouderdom is meisies dikwels verward en word nie ondersteun nie. Geen meisie moet 'n enkele skooldag misloop of haar waardigheid verloor as gevolg van 'n natuurlike biologiese proses nie," sê Nghipunya.

Die projek sal April in die Ohangwenastreek begin met drie skole as deel van die afskopfase van die inisiatief. “Ons visie is om duisende leerlinge landswyd te bereik. Ons wil seker maak dat die 'vergete' ouderdomsgroep van 11 tot 15 ten volle gedek word,” verduidelik Nghipunya.


LANDSWYE OPLOSSING

Sy beklemtoon dat die inisiatief ontwerp is om te groei van 'n klein projek na 'n nasionale oplossing wat verseker dat alle meisies in hierdie ouderdomsgroep ondersteuning kry.

Die verskaffing van sanitêre doekies is slegs die helfte van die oplossing. Nghipunya dring daarop aan: “Om 'n doekie te gee sonder onderrig is slegs die helfte van die oplossing. Ons wil hê die meisies moet verstaan wat met hul liggame gebeur, selfversekerd voel en nooit onkant gevang word nie.”

Die werkswinkels van “I’m just a girl – Keep the girl child in school” sal die bestuur van menstruele higiëne, puberteit en biologie, die volg van siklusse en selfbeeld dek, met die doel om leerlinge te bemagtig om aktief en selfversekerd op skool te bly.

“Ons doel is dat hulle bemagtig voel, hul liggame ken en nooit toelaat dat vrees of skaamte hulle van skoolonderrig weerhou nie,” voeg sy by.

Samewerking is die kern van die inisiatief. Nghipunya werk nou saam met skoolhoofde, onderwysers in lewensvaardighede, korporatiewe borge en gemeenskapsleiers.

“Dit is 'n nasionale kwessie, en almal het 'n rol om te speel. Ons bou 'n kollektiewe oplossing vir Namibiese meisies,” sê sy.

Nghipunya erken die uitdagings wat voorlê, veral logistiek en befondsing. “Die grootste uitdagings is vervoer na landelike gebiede en konsekwente befondsing. Om dit te oorkom, bou ons 'n deursigtige model waar skenkers presies kan sien waarheen hul bydraes gaan,” verduidelik sy.

Deur te begin met 'n suksesvolle loodsprojek in Ohangwena, hoop Nghipunya om die impak van die inisiatief te bewys en langtermyn-vennootskappe vir 'n landswye uitrol te verseker.

Ondersteuning vir die projek strek verder as net die skenk van sanitêre doekies. Nghipunya sê mense kan help deur logistieke ondersteuning te bied, vrywillig as mentors vir die werkswinkels van die inisiatief te werk, op sosiale media voorspraak te maak, of finansieel by te dra om die koste van opvoedkundige materiaal en higiënepakkette te dek.


SKOOLBYWONING

Die impak sal hoofsaaklik gemeet word deur skoolbywoningsyfers. “As die meisies in ons program nie meer skool tydens hul menstruasie misloop nie, het ons geslaag,” sê Nghipunya Opnames voor en na die werkswinkel sal ook dophou hoeveel die meisies se kennis en selfvertroue gegroei het, wat verseker dat die program tasbare resultate lewer.

Wêreldwye statistieke beklemtoon die dringendheid van Nghipunya se werk. Baie meisies wêreldwyd loop skool mis weens menstruasie en 'n gebrek aan geriewe, wat hul onderrig en toekomstige geleenthede beperk.

Nghipunya se inisiatief bewys hoe onderwys, die voorsiening van hulpbronne en samewerking van gemeenskappe 'n betekenisvolle verskil kan maak – een skool op 'n slag. "Geen meisie moet agtergelaat word of skaam voel nie. Elke dag wat 'n meisie op skool bly, is 'n oorwinning," sluit sy af.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer