Sophia se hart is soos ’n kruietuin
Self “sit sy haar hande aan baie goed”, maar haar hart (en hande) trek immer grond toe waar sy kan grawe en haar geliefde kruie kan plant.
Daarom dink sy sy het beslis groen vingers, sê Sophia Cloete wat op 60 eintlik Rehoboth se rumoer vir die rustigheid van die plaas wil verruil.
Sophia is ’n Rehobother in murg en been en is hier gebore en het hier skoolgegaan. Na skool is sy soos vele voor haar Windhoek toe, maar in 2020 trek sy weer terug na haar geboortedorp want “ek dink Windhoek het darem bietjie te bedrywig geraak vir my”.
Dis juis die dorp se rustigheid wat haar na aan die hart lê, sê Sophia, “want jy gaan sommer hier uit die veld in”.
As familie gaan hulle egter gereeld uit na hul ouers se plaas toe wat daarom mos ook “onse plaas” is. Hier word met beeste en skape “en so bietjie tuinmaak” geboer.
Daar is baie inwoners op die dorp wat boer, vertel sy.
“Ek dink in Rehoboth is die meeste maar eintlik boere, ons het die plase rondom die dorp.”
Sy is nou amptelik 60 en wil eintlik rustig op die plaas gaan bly, want in Rehoboth is dit ook nog te besig, erken Sophia.
Sy het ook maar “deur die struggle” om iets op jou eie te doen by Women of Faith beland.
“Ek persoonlik sit my hande aan baie goed. Ek is besig met tuinmaak en het ook begin hekel. Hekel het bietjie stadig vir my gegaan, want die mense wil nie jou prys betaal nie en dis baie werk,” sê Sophia.
Sy is deur haar vriendin Mavis in Women of Faith se rigting getrek en sy erken sy het nie geweet waarvoor sy haarself inlaat nie en het “maar net saam geloop!”.
Gou is sy egter saam met die ander vroue aan die werk gesteek en is daar in alle erns by die Metodistekerk op die dorp begin plant.
Saam het die vroue begin gesels en planne beraam oor hoe hulle hul pogings bymekaar kan sit tot voordeel van mekaar.
“Jy struggle op jou eie, want soms het jy nie die finansies om iets te begin nie. Met dit wat elkeen gehad het, het ons begin.”
Een van die vroue het plantjies gebring wat hul weg na die tuin by die kerk gevind het. Dit wat geskenk en geplant is, is verkoop om geld in te samel om die volgende projek te begin – die bak van Oumabeskuit.
Elkeen het iets gebring wat sy gehad het om te verkoop, wat tot afval ingesluit het.
“So het ons hierdie ding begin en dis nog nie waar ons dit wil hê nie, maar ons gaan aan en ons is op pad iewers heen.”
In die kruietuin pryk van basiliekruid en pietersielie tot mosterd, vertel Sophia trots.
“Dis die eerste keer in my lewe wat ek mosterd geplant het en dis so vinnig en het ’n smaak wat jy nie kan glo nie. Dit het ’n radyssmaak en ek is mal oor radyse. Dit groei vinnig en jy kan ’n heerlike slaai uit mosterdblare maak.”
Die plan met die kruie is om die plantjie en die vars kruie te verkoop, maar dit ook te droog.
Elke Saterdag slaan die vroue hul tafels met hul produkte voor die Basterkaptein se kantoor in die middedorp op en aan die einde van die maand word Boeremark by die skougronde gehou.
By die kaptein se kantoor gaan dit nog bietjie stadig, erken Sophia.
“Ek dink die vroue weet nog nie almal nie, hoewel ons alles in ons vermoë doen om die vroue te laat weet ons sit elke Saterdag daar. Maar hierdie Saterdag kom sit daar weer ’n nuwe persoon en so groei ons bietjie vir bietjie.”
Sophia reken sy moet beslis groen vingers hê, want “ek hou dan so baie van plant!”.
“Dis vir my lekker om in die grond te werk. Soms sê my kinders vir my om tog handskoene aan te sit, maar dan help dit mos nie, dis juis om in die grond te werk!”
Dis naby die aarde, sê sy en dit gee regtig vir jou ’n rustigheid.
“Jy voel eintlik sleg as jy die oggend nog nie jou tuin natgemaak het of vir jou blommetjies gesê het hulle is oulik nie!”
Sy het ook ’n paar vetplante, maar hulle het nie baie aandag nodig nie, jy moet hulle net “rustig” hou.
Sophia hou baie van asters vir die baie mooi kleure en omdat dit ook redelik maklik is om te groei.
Nadat haar asters egter die tydelike met die ewige verwissel het, het sy nou Stink Afrikaners geplant want “hulle is ook baie gemaklik om te groei en is ’n wins vir jou ander plante en groente, want hulle hou die goggas weg”.
Toe sy ses jaar gelede uit Windhoek teruggetrek het Rehoboth toe, het sy met ’n kruietuin begin wat met van dille tot anys gespog het. Nadat aanvanklik mooi gegroei het, was haar oes daarna nie so suksevol nie. Danksy die inspirasie van Women of Faith het Sophia haar grond weer van voor af bewerk en is sy weer volstoom besig om in haar kruietuin, tot voordeel van haar en ander, te woeker. Want net met een plantjie, kan die oes soveel vir ander beteken.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie