Somer, strand, see. . . en skilder!

Henriette Lamprecht
Saterdag het ’n groep van 16 jong kunstenaars van die Namib Primêre Skool vir ’n wyle die klaskamer verruil om by Swakopmund se gewildste bymekaarkomplek, die Mole, voete in die sand en met die see as inspirasie te skilder. Diè unieke geleentheid was te danke aan Ocean Painters wat kreatiwiteit, son, sand en see kombineer vir iets spesiaal op elkeen se skilderdoek.

Ocean Painters het gesorg vir van die gazebo’s en esels tot die verf en kwaste, met die leerlinge wat met die geluid van die branders in die agtergrond net op hul skeppings kon fokus.

Danksy die leiding en aanmoediging van die Ocean Painters was die eindresultate indrukwekkend en vol karakter, sê Ute Niebruegge – van helder kleure tot unieke interpretasies van die Namibiese kuslyn.

“Ons missie is om kuns toeganklik en betekenisvol vir mense van alle ouderdomme te maak onder die vaandel van ‘jou oomblik by die see, vir altyd op die skilderdoek!’” sê Ute. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-03-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer