Sewe droë jare

-
-
Desmarius Hansen

Inwoners van Khorixas sê hulle is reeds vir etlike jare uitgelewer aan wisselvallige watervoorsiening, met krane wat dikwels vir die grootste gedeelte van die dag droog is. Dit ten spyte van huishoudings wat getrou hulle maandelikse munisipale rekenings vereffen.


Lede van die gemeenskap het aan Network Media Hub (NMH) gesê water is gereeld deur die loop van die dag nie beskikbaar nie, met toevoer wat net vir ‘n wyle in die vroeë oggendure, soms so laat as 03:00, terugkeer. 


‘n Inwoner van die dorp, Rachel Kasete, sê die situasie het ‘n voortgesette uitdaging vir mense in die gemeenskap geword. 

“Dit is al vir jare so en soms kom die water nie eers in die oggend nie. Op hierdie stadium is ons al gewoond daaraan,” het Kasete gesê.

Gemeenskapslede beweer voorts die munisipaliteit het vroeër begin om waterpype in die gebied te herstel, maar ook dit staan nou stil. 

Die gebrek aan water maak dit vir inwoners moeilik om basiese huishoudelike aktiwiteite soos kos- en skoonmaak te kan doen en ook basiese persoonlike higiëne te kan handhaaf.

Die munisipaliteit op Khorixas het by navraag onderneem om vandag op die griewe te reageer. - [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-07-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer