San, ‘onwettige’ beeste in stiergeveg oor water

Gemarginaliseerde gemeenskappe se klagtes val op dowe ore
Inwoners word gedwing om te wag dat die boorgat weer vol loop nadat groot beeskuddes die watervoorraad uitgeput het.
Phillipus Josef

Inwoners van Mkata naby Mangettiduin in die Otjozondjupastreek sê honderde beeste wat deur mense die gebied ingebring is – mense wat hulle beweer onwettig daar gevestig is – gebruik die water uit ’n boorgat wat bedoel is om die San-gemeenskap te bedien.

Andreas Thomas en Hillas Kaimbi het verlede week aan Republikein gesê inwoners word gedwing om te wag dat die boorgat weer vol loop nadat groot beeskuddes die watervoorraad uitgeput het.

“Die beeste drink al die water op en ons het hard gewerk om hierdie boorgat te kry,” het Thomas gesê.

Kaimbi het gesê die gemeenskap wil hê die mense en hul beeste moet uit die gebied verwyder word en het gesê die diere maak dit vir inwoners moeilik om toegang tot water te kry.

Die boorgat is onlangs gesink om watertoegang in die gemeenskap te verbeter, terwyl ’n groentetuin langs ’n sentrum vir vroeë kinderontwikkeling gevestig is om kos te voorsien en jongmense tuinmaakvaardighede te leer.

Inwoners het egter gesê die tuin sukkel nou weens die tekort aan water.

Thomas het gesê die gemeenskap wil hê die tuin moet bewaar word sodat jonger geslagte daaruit kan leer en die kennis kan voortsit.

Die watergeskil kom teen die agtergrond van ’n jare lange konflik oor die beweerde onwettige vestiging en beesweiding in San-gemeenskapsgebiede by Nyae Nyae en N≠a Jaqna.

In ’n gesprek met Republikein verlede week het ds. Andries Gous, bestuurder van Degnos, gesê honderde beeste is tydens ’n besoek die vorige Saterdag by die nuwe waterinstallasies by Mkata gesien.

Hy het gesê die tuin se watertenk was leeg en gewasse wat geplant is, het gevrek omdat daar nie genoeg water was.

Gous het gesê die boorgat is vanjaar geboor en die grootskaalse instroming van beeste na die gebied binne maande daarna gevolg het.

Hy het ook soortgelyke geskille by Kanana en Boorgat naby die Matjana-gebied geopper, waar hy gesê het waterinfrastruktuur vir die gemeenskap is deur die beeste oorgeneem.


LANGDURIGE STRYD

Die geskille word in hofstryde in die kommunale bewaringsgebiede van Nyae Nyae en N≠a Jaqna weerspieël.

By N≠a Jaqna het die hoërhof in 2016 22 van 35 onwettige intrekkers beveel om hul heinings en vee uit die bewaringsgebied te verwyder. Die saak het gevolg op jare se klagtes oor mense wat hulle in die bewaringsgebied vestig en met beeste boer.

Volgens ’n berig in Republikein in 2020 is daar nie aan die hofbevel voldoen nie en geen van die 22 intrekkers het teen daardie stadium die grond ontruim nie.

In die Nyae Nyae-saak het sewe boere van Gam uitsettingsverrigtinge in die gesig gestaar oor beweerde besetting van kommunale bewaringsgrond. ’n Uitsettingsbevel is in die hoërhof in 2018 weens tegniese kwessies herroep, met die saak wat sou voortgaan.

Die respondente het die bewerings betwis en onder meer aangevoer dat hulle op Tsumkwe woon en weidingsregte het wat gekoppel is aan vee wat van lede van die Nyae Nyae-gemeenskap verkry is. Dit behels byna 460 beeste, bokke, donkies en pluimvee.

Klagtes van die gemarginaliseerde San-gemeenskappe val steeds op dowe ore. In 2022 het Ju/'hoansi Tradisionele Owerheid se hoofman, Tsamkxao ‡Oma Bobo, kommer uitgespreek oor langdurige sake wat onwettige weiding behels en toenemende getalle beweerde onwettige intrekkers. Die beeste vernietig die San, wat jagters en versamelaars is, se boskos soos bessies, asook hul duiwelsklou waaruit hulle ’n aansienlike inkomste kry.  

Thomas het gesê die gemeenskap wil hê die mense wat hulle as onwettige intrekkers beskou en hul beeste moet die grond verlaat sodat inwoners weer betroubare toegang tot die boorgat kan kry.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer