Saam maak ons ’n verskil

-
-
Henriette Lamprecht

Die voortslepende negatiewe finansiële gevolge wat die uitbreking van bek-en-klouseer (BKS) op veeboere in Namibië het, word nie net oral deur die waardeketting gevoel nie. 

Dis ook op voetsoolvlak en in plaashuise waar kinders nie net in grootmense se gesprekke die desperaatheid hoor nie, maar dit ook eerstehands ervaar, sê Sulette Steenkamp.

Dis juis uit hierdie moedelose desperaatheid wat soos ’n wolkombers oor boere hang, wat ’n groep kinders besluit het om die negatiewe impak van BKS op sy kop te keer en in iets positiefs te omskep. 

’n Groepie leerlinge uit die Helmeringhausen-omgewing in die ||Kharasstreek wat tuisonderrig ontvang, het onder die vaandel van die Namibranders Tuisskool Ondersteunersgroep geroepe gevoel om uit ’n slegte situasie iets positief te laat voortspruit. 

Farmers Make a Difference (FMD) is gebore en op 7 November het die leerlinge hul eerste dag met ’n verskil aangebied. Tydens hul spreidag het die jong leiers van môre op Helmeringhausen alle toeriste, besoekers en plaaslike boere se voertuigbande met ’n ontsmettingsmiddel gespuit wat deur Agrimark (Kaap Agri) op Keetmanshoop geborg is. Elke voertuig se voorruit is gratis gewas, terwyl pamflette uitgedeel is om bewusmaking oor BKS te bevorder. Boonop is ’n verskeidenheid produkte wat die leerlinge self gemaak het, ook op die spesiale dag verkoop.

Nadat elke besoeker eers oor ’n ontsmettingsmat, geborg deur Agra op Maltahöhe gestap het, kon hulle met ’n koppie koffie en heerlike eetgoed saamkuier. Tydens die samesyn gevul met bemoedigende gesprekke van hoop, het die kers van omgee, hoop en saamstaan se vlam hoog gebrand. 

Sulette vertel die leerlinge gaan alle fondse wat tydens die dag ingesamel is, gebruik om na hul gemeenskap uit te reik en op te hef daar waar BKS al op verskeie maniere sy kloue ingeslaan het.

Volgens haar beplan die groep kinders ook reeds om die inisiatief verder uit te brei. 

“Die Farmers Make a Difference-veldtog deur kinders het ’n klein begin op ’n klein plek gehad, maar het reeds gewys daar waar ons hande vat, kan ons land se mense saam ’n groot verskil maak,” sê Sulette. 

Indien enigiemand by die veldtog betrokke wil raak of die voorbeeld in hul eie onderskeie gemeenskappe wil uitbrei, kan Sulette vir inligting by 081 284 8348 gekontak word.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer