Outjo sit tradisie voort
Wat in 1996 as ’n eenvoudige geldinsamelingsinisiatief begin het, het sedertdien ’n diepgewortelde tradisie geword wat na byna drie dekades voortduur.
By die Privaatskool Moria op Outjo span die skool en die gemeenskap elke jaar kragte saam vir die skool se bekende vrugtekoekprojek.
Die projek het klein begin. Ouers het die vrugtekoeke – volgens die skool se beproefde resep – by hul huise gebak en dit self verkoop.
Die bakbedrywighede is later na die Outjo Backerei verskuif en in 2015 is ’n mylpaal bereik met die skool wat sy eie bakkery, bekend as Die Bakgat, geopen het. Al die toerusting is deur weldoeners geskenk, ’n bewys van die gemeenskap se ongelooflike betrokkenheid.
Die huidige projekkoördineerder, Magdel Pretorius, is slegs die derde persoon wat die leiding sedert 1996 neem. Sy volg in die voetspore van Sandra Burger en Reneé de Jager en het ’n jaar saam met Reneé gewerk om die algehele proses te leer.
“Hierdie is nie my projek nie. Ek is net die volgende hande. Die projek is groter as enige individu,” sê sy.
Elke dag volg ’n gevestigde ritme.
’n Span berei die vrugte, botter en suiker voor. Daarna meng nog ’n span die deeg en weeg elke pan noukeurig. Dit word gevolg deur die brandewynstap, die afkoelproses, die skoonmaakproses en uiteindelik die oggendspan wat elke koek toedraai, versier en verpak.
Ouers, onderwysers, leerlinge en selfs vroue wat in die oorspronklike 1996-span was, kom steeds help, sommige lank nadat hul kinders klaar is met skool.
“Dit is een van die grootste seëninge. Outjo se vroue kan saamstaan soos min ander,” sê Magdel.
Die bykomende inkomste help die skool om bedryfsuitgawes te dek, aangesien nie alle uitgawes deur skoolgeld gedek kan word nie.
Maar vir die gemeenskap is die projek veel meer as net ’n bron van inkomste; dit is ’n anker, ’n tradisie wat mense verbind.
“’n Skooljaar sonder die vrugtekoekprojek is ondenkbaar. Dit is deel van wie ons as skool en gemeenskap is,” verduidelik sy.
Natuurlik is daar ook stories waaroor daar steeds gelag word, floppe wat in herinneringe verander het en oomblikke wat nooit vergeet sal word nie.
Die grootste trots lê egter in die konsekwentheid: Elke proses het sy eie resep, sy eie manier van doen, sy eie mense. Slegs die projekleier het die volledige resep en weeg die bestanddele af. Die kernspanne verander nie jaarliks nie en dit is juis daardie bestendigheid wat die gehalte van die vrugtekoeke en tradisie beskerm.
Vir Magdel is dit meer as net ’n taak, dit is ’n eer.
“Vier weke van saamwerk en saamkuier verander ’n mens. Om deel te wees van iets wat nie oor jou gaan nie, maar oor wat ’n gemeenskap saam kan bou, maak jou lewe ryker.”
En so leef die tradisie voort. In Die Bakgat hang ’n muur van houtlepels, elk met ’n naam en jaar daarop gegraveer – lepels van almal wat oor die jare deel was van hierdie besondere storie. Hulle hoop om in die toekoms nog baie meer lepels teen die muur te hang.
Die vrugtekoeke word landswyd by Checkers, OK Foods, Food Lover’s Market, Model, Spar en Wecke & Voigts verkoop.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie