Opmetings begin op Groot Aub

Huurkontrakte beplan
Hoofstad tref voorbereidings om inwoners van Groot Aub te laat opdok.
Augetto Graig

Die Windhoekse munisipaliteit het bevestig die opmeting van plotte en grond wat deur inwoners op Groot Aub besit word, het afgeskop.

Volgens die munisipaliteit se woordvoerder, Lydia Amutenya, het die proses om eienaarskap en die omvang van die grond in besit van inwoners op 10 Oktober vanjaar begin. Dit is in ooreenstemming met die stadsraad se besluit nommer 80/03/2020.

“Alhoewel die verifikasieproses eers onlangs begin het, is dit ’n oefening wat lank reeds nodig was. Die verwagting is dat dit ’n geruime tyd sal neem om die proses te voltooi,” het Amutenya op navraag van Republikein gesê.

“Tot op hede is geen van die betrokke persele vir verifikasiedoeleindes besoek nie.” 

’n Aanvangsvergadering met geraakte boere het, volgens Amutenya, op 10 Oktober plaasgevind.

Sy het by navraag gesê die munisipaliteit het nog nie begin om huurooreenkomste met inwoners aan te gaan nie.

“Die huidige proses is daarop gerig om grondbesetting te verifieer en die omvang van besette grond te bepaal, voordat huurooreenkomste oorweeg kan word,” het Amutenya gesê.

Inwoners betwis egter die weergawe dat geen persele reeds besoek is nie. Inwoners, veral diegene wat in die gebied bekend as Eiland woon, beweer hulle is reeds “gedwing” om huurkontrakte te onderteken. Volgens die inwoners is daar geen bewyse van die kontrakte aan hulle verskaf nie. Dit is glo omdat die besonderhede eers in ’n rekenaarstelsel ingevoer moes word. 

Volgens Amutenya is daar geen standaardhuurtarief wat op alle inwoners van toepassing is nie. Hiervoor moet die munisipaliteit eers presies bepaal hoeveel grond in die besit van Groot Aub se inwoners is, asook die waarde daarvan, het sy verduidelik. 

Volgens haar sal die nuwe huurooreenkomste egter niemand van bestaande grondregte ontneem nie. 

“Individue wat oor ’n geldige bewys van eienaarskap, eiendomsreg of ander wetlik erkende besitregte beskik ten opsigte van die grond wat hulle bewoon, sal nie verplig word om huurooreenkomste aan te gaan nie,” sê Amutenya.

Volgens haar is nie elke bewoonde stuk grond in private eiendom geformaliseer nie. Amutenya het gemaan die nuwe huurkontrakte sal nie grondbesettings wettig nie. 

“Die munisipaliteit handhaaf ’n benadering van geen verdraagsaamheid teenoor die onwettige besetting van munisipale grond nie,” het sy beklemtoon.

Amutenya het gesê sowat 950 erwe is op die goedgekeurde algemene planne vir Groot Aub aangedui. Volgens haar is die moratorium van 2018 op konstruksie of grondverkope op Groot Aub steeds van krag. 

“Stad Windhoek beskik tans nie oor ’n gedokumenteerde rekord van enige oortreding van hierdie moratorium nie,” het Amutenya gesê. 

“Net twee permitte is sedert 2018 toegeken vir die uitbreiding van tydelike strukture op Groot Aub, wat albei goedgekeur is,” het sy gesê. 

Inwoners van Groot Aub sê egter ten minste vyf erwe is onlangs vir N$5 000 elk verkoop. Die nuwe eienaars het glo nuwe stempels ontvang wat na 2017 teruggedateer is. Die inwoners beweer die grond is deur Zimbabwiërs gekoop en dat Nigeriërs grond op Groot Aub spesifiek vir ’n nuwe kerk bekom het.

Amutenya het op haar beurt gesê die munisipaliteit ontmoedig onwettige grondverkope, aangesien sulke transaksies gewoonlik plaasvind sonder die munisipaliteit se medewete of betrokkenheid. 

“Inwoners word aangemoedig om enige beweerde grondverkope by munisipale kantore te verifieer, voordat hulle enige transaksie aangaan, en om vermoedelike onwettige grondverkope by die betrokke owerhede aan te meld,” het sy gemaan. 

Ten spyte van die grootskaalse oprigting van nuwe omheinings oraloor Groot Aub met die doel om grond te beset, het Amutenya beklemtoon die munisipaliteit het sedert 2018 nie die omheining van enige nuwe grond op Groot Aub gemagtig nie. 

Gevolglik word enige omheining wat sonder goedkeuring opgerig is, as onwettig beskou,” het sy gesê. 

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer