Omaheke se ‘spookburgers’ soek ID’s

Phillipus Josef

Inwoners van Du Plessis Plaas in die Omahekestreek sê hulle leef al jare lank sonder nasionale identiteitsdokumente (ID’s) waartydens hulle nie werk en toegang tot ander dienste kon kry nie.

Dit ten spyte daarvan dat sommige as kiesers kon registreer.

Dié kwessie is geopper enkele weke voordat die regering in September begin met die uitrol van Namibië se nuwe elektroniese identiteitskaarte (e-ID’s).

Vir die 29-jarige Gideon Isaaks van dié nedersetting sowat 80 km noord van Gobabis in the Okorukambe-kiesafdelilng strek die probleem oor geslagte heen.

“Ek het nog nooit ’n identiteitsdokument gehad nie. Die enigste dokument wat ek het, is ’n kieserskaart wat ek voor die 2019-verkiesings ontvang het, maar dit is nie genoeg wanneer ek vir werk aansoek doen of moet bewys wie ek is nie,” het hy Maandag aan Republikein gesê.

“My ouers het ook sonder amptelike dokumente geleef en nou is hulle albei oorlede. Ons het nooit die behoorlike papierwerk gehad wat kan help om ons identiteit te bewys nie. Dit voel asof ons familie vir geslagte lank onsigbaar was.”

Isaaks het gesê dat ’n ID mense soos hy in staat sou stel om werk te kry, toegang tot dienste te hê en uiteindelik erken word.

Joseph Ganxrab (34) het gesê dat die lewe in die afgeleë nedersetting reeds geleenthede beperk, met tydelike padinstandhoudingswerk wat dikwels die enigste beskikbare werk is.

“Selfs dan kan ek nie daardie geleenthede kry nie, want werkgewers vra vir ’n identiteitsdokument wat ek nie het nie,” het hy gesê.

“Dit is pynlik om te sien hoe ander mense werk toe gaan terwyl ek agterbly. Al wat ek wil hê is ’n ID en die kans om ’n eerlike bestaan te maak.”

Anna Ledipane (38), wat drie kinders grootmaak, het gesê sy voel vasgevang sonder ’n ID.

“Wanneer ek ook al van werk hoor, weet ek die eerste ding waarvoor hulle gaan vra, is ’n ID. Sonder dit kan ek nie eens probeer nie,” het sy gesê.

“Ek wil net hê die regering moet mense soos ons help sodat ons ons dokumente kan kry, werk kan kry en vir ons families kan sorg.”

Nikodemus Katjihoro (51) het gesê hy het nog nooit ’n nasionale ID besit nie en het op ’n kieserskaart wat hy sowat vyf jaar gelede gekry het, staatgemaak as sy enigste vorm van identifikasie.

Hy het gesê hy het tydens die presidentsverkiesings in 2019 vir ’n ID aansoek gedoen, maar het dit nog nie ontvang nie, wat dit moeilik maak om tydelike werk in konstruksie en die boerderybedryf te kry.

Katjihoro het bygevoeg dat baie ander inwoners op en rondom Du Plessis Plaas dieselfde uitdaging in die gesig staar.

In reaksie op vrae van Republikein het die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit se administratiewe beheerbeampte, Festus Abiatar, gesê die bekendstelling van elektroniese identiteitskaarte sal nie die wetlike vereistes vir die verkryging van identifikasie verander nie.

Hy het gesê die ministerie het sy kantore oraloor die land uitgebrei, hospitaal- en substreek-registrasiepunte ingestel en mobiele registrasieprogramme uitgevoer wat op gemeenskappe, skoolkinders, gemarginaliseerde groepe en mense wat deur natuurrampe geraak is, gemik is.

“Hierdie pogings sal selfs ná die implementering van die e-ID voortgaan om seker te maak dat alle kwalifiserende mense ’n redelike geleentheid het om vir nasionale dokumente te registreer,” het hy gesê.

Abiatar het beklemtoon dat die e-ID-uitrol ’n tegnologiese opgradering is en nie die prosedures verander vir die bepaling van burgerskap of die uitreiking van ID’s nie.

Hy het enigiemand van 16 jaar of ouer wat nie ’n identiteitsdokument het nie, aangemoedig om die naaste kantoor van die ministerie te besoek sodat amptenare hul omstandighede kan beoordeel en hulle oor die toepaslike proses kan adviseer.

Volgens die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) moet aansoekers hul identiteit, ouderdom en Namibiese burgerskap bewys voordat hulle kan registreer om te stem, terwyl ’n kieserskaart self nie bedoel is om as bewys van identiteit vir indiensneming of toegang tot regeringsdienste te dien nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-09-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer