Om die see vir die eerste keer te sien
Hulle dra twee wêrelde op hul skouers. En hoewel hul erfenis oeroud is, is hul drome in die moderne geanker.
Só sê die man wat dit verlede week vir die heel eerste keer vir 28 San-kinders moontlik gemaak het om die see te sien, te hoor, te ruik en te voel ná ’n reis van die Kalahari na die Atlantiese Oseaan.
Die toer van 730 kilometer was volgens die Sloween Matej Rancigaj, ’n jarelange ondersteuner van die Primêre Skool Grashoek in die noordooste van die land waaraan die kinders verbonde is, ’n manier om beide wêrelde te vier.
Dit sou twee jaar neem voordat die toer ’n werklikheid kon word, wat ook deur ’n konsortium plaaslike en buitelandse skenkers ondersteun is.
Vir die groep kinders, lede van die Ju|’hoansi San, een van die oudste inheemse kulture in die wêreld, was die toer soveel meer as net ’n vakansie, maar ook die kans om buite die beperkings van ekonomiese swaarkry en geografiese afsondering te beweeg.
Die Primêre Skool Grashoek wat naby Tsumkwe in
Otjozondjupa geleë is, bedien leerlinge uit sommige van die land se mees afgeleë nedersettings. Die meeste van die kinders het nog nooit hul onmiddellike omgewing verlaat nie, wat nog te sê die see gesien.
“Dit het aan hulle ’n gevoel van behoort, selfvertroue en ook nuuskierigheid gegee,” vertel Rancigaj.
“Ons wou vir hulle wys die wêreld is groter as dit wat hulle al gesien het en dat hulle ook daarin hoort.”
Die finansiering van die reis asook die logistieke reëlings is moontlik gemaak deur ’n netwerk van oorgrens- kontinentale ondersteuning, met die onderwysers by Grashoek wat die grondslag vir die toer gelê het.
Die vier dae lange reisprogram is ontwerp om nie net die kinders te inspireer nie, maar ook om te onderrig en hul horisonne te verbreed. Deel van die program was besoeke aan die Swakopmund-museum, die Slangpark- en Reptiel-onderrigsentrum, Duin 7 en die Maanlandskap. Natuurlik kon die kinders ook nader kennis maak met die oeroue Welwitschia mirabilis.
Die leerlinge is ook op begeleide toere geneem na die robkolonie by Kaap Kruis, die Walvisbaaise hawe, die Dorob Nasionale Park, ’n soutfabriek en die Pienk Meer.
Daar was ook tyd vir pret en speel op die strand, opvoedkundige speletjies, asook kook- en skoonmaaksessies om verantwoordelikheid en spanwerk aan te moedig.
’n Besoek aan ’n winkelsentrum het die leerlinge blootgestel aan ’n ervaring wat hulle nog nooit gehad het nie, terwyl die aande gebruik is om oor elke dag se gebeure en ervarings te gesels. Die reisprogram is afgesluit met ’n spesiale vertoning by Sound Garden op Swakopmund deur die plaaslike musikant Sagarias Tsam.
Een van die vele hoogtepunte was die 11-jarige Josephine wat as die ster van die vieringe ontpop het.
Josephine het in Swakopmund aangekom met ’n ernstige parasitiese velinfeksie wat sy weggesteek het uit vrees om van die program uitgesluit te word.
Nadat sy egter onmiddellik mediese sorg by ’n plaaslike hospitaal ontvang het, het sy vinnig herstel en ’n ieder en ’n elk verbaas deur die laaste aand met verbande aan haar voete steeds haar hart uit te dans.
“Sy het ons almal daaraan herinner wat dit beteken om te lewe, om deur die pyn na vreugde te beweeg,” sê Rancigaj.
“Daardie oomblik met Josephine wat op die verhoog dans en almal wat haar aanmoedig, was ’n herinnering dat drome kragtig en die moeite werd is om voor te baklei.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie